Kumba skuld dalk nog R1 miljard belasting vir Sishen

Sishen-myn naby Kathu in die Noord-Kaap (Foto: www.angloamerican.com)

Sishen-myn naby Kathu in die Noord-Kaap (Foto: www.angloamerican.com)

Kumba Iron Ore Limited het Dinsdag gesê hy het ʼn kennisgewing van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ontvang van ʼn moontlike bykomende belastingrekening van R1 miljard vir sy filiaal, Sishen Iron Ore Company (SIOC), waarvan hy 73,9% besit.

Dit kom ná ʼn kennisgewing in Februarie vanjaar dat die maatskappy R5,5 miljard moet betaal ná ʼn assessering deur SAID vir die belastingjare 2006 tot 2010.

“Kumba het nou ʼn soortgelyke brief van bevindings van SAID ontvang wat betref die 2011-belastingjaar, wat moontlike wysigings tot die maatskappy se belasbare inkomste aandui wat tot ʼn bykomende belastingaanspreeklikheid van R1 miljard kan lei. Die is uitgesluit enige moontlike rente en boetes, indien Kumba op hierdie basis geassesseer word,” lui die verklaring.

Volgens die maatskappy het SIOC beswaar aangeteken teen die assessering en aansoek gedoen dat die betaling opgeskort moet word, hangende ʼn reaksie van die SAID-kommissaris oor albei sake.

Kumba, ʼn lid van die Anglo American-groep, het gesê Sishen het sy volle samewerking vir die SAID gegee tydens die oudit, maar stem nie ooreen met die bevindings nie.

Themba Mkhwanazi, uitvoerende hoof, het gesê Kumba en sy filiale glo dat alle belasting reeds betaal is en “dat ons voldoen het aan alle betrokke belastingwette in alle jurisdiksies waar ons bedrywig is”. “Kumba genereer ʼn beduidende waarde vir al sy aandeelhouers en is ten volle verbind tot die transformasie van die Suid-Afrikaanse mynbedryf en die breër maatskaplike en ekonomiese voordele wat ons bring.”

Mkhwanazi het daarop gewys dat die maatskappy in 2015, ʼn jaar waartydens die ystererts se prys sterk gedaal het, bygedra het tot “R900 miljoen in korporatiewe belasting en minerale tantieme, R4,7 miljard in salarisse en lone, R15,2 miljard in plaaslike aanskaffing, R6,8 miljard van kapitaal wat in die onderneming herbelê is en R174 miljoen in maatskaplike beleggings in gesondheid, behuising, opleiding en kleinsakeontwikkeling”.

Kumba het gesê die oudit vir 2012 en 2013 duur voort en aandeelhouers sal op hoogte gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

stephanus jesaja Heunis ·

Kom jul verpligtinge na by said en moenie die transforming card Speel nie. Geldmaak is skuldmaak ook so payup

REAList ·

Ons is desperaat vir inkomste nê.
Die ANC kan nie geld verduister as dit nie inkom nie.

Bob ·

Dit klink meer vir my asof hulle Sishen uitsonder. Mittal wou n paar jaar terug Kumba se Posmasburg myn net vat, en ek dink Rainbow”Zuma” Minerals het ook n paar jaar gelede Sishen probeer oorvat. Ek dink hulle is nou suur druiwe en die Guptas/Zumas het nou vir SARS gekry om hulle te boelie tot Sishen bankrot is.

Scalla ·

SAID is geldhonger want dit word wanbestee deur zuma en kie

Boerin ·

Daar is nou een myn wat vir sy werknemers sorg en hul sosiaal maatskaplike “pligte” nakom. Maar alles wat werk moet verwoes word in hierdie land! Sterkte Kumba!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.