Kundiges sit veiligheidsplan vir gemeenskappe uiteen

AfriForum-veiligheidsberaad-2017-sprekers

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, Dan Plato, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, genl. Roland de Vries raadgewer van dié projek, Ben Freeth, ‘n boer van Zimbabwe, Mosiuoa Lekota, leier van Cope, Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, Yusuf Abramjee, ‘n gemeenskapsaktivis en dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies. Foto: Forumnuus.co.za

Die ongekende reeks aanvalle en moorde op plase, kleinhoewes én in stedelike gebiede sedert die begin van die jaar noodsaak Suid-Afrikaners om toenemend self na hul veiligheidsituasie te kyk.

In die lig hiervan bied AfriForum in samewerking met die Solidariteit Beweging Saterdag 6 Mei ’n veiligheidsberaad by die Heartfelt Arena in Pretoria aan. Die arena is oorkant die Voortrekkermonument en die verrigtinge begin om 09:00. Die tema van die beraad is: Kom ons maak ons strate veilig!

Volgens Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, moet gemeenskappe hulself binne die wetlike raamwerk begin beveilig. “Buurt- en plaaswagte is bewese konsepte wat misdaad saam met die polisie en privaat sekuriteit kan hokslaan.”

Die doel van die beraad is om AfriForum se veiligheidstrategie, genaamd Projek Nehemia, bekend te stel wat nasionaal in werking gestel gaan word.

Volgens genl. Roland de Vries, raadgewer van dié projek, fokus dit spesifiek op die aanslag wat gemeenskappe binne die wetlike raamwerk teen geweldenaars moet voer. “Die strategie is inklusief en het ten doel om alle gemeenskappe met inligtingsbestuur en misdaadvoorkoming deur middel van ’n nasionale netwerk te help.”

Tydens die beraad sal gefokus word op:

  • Die vestiging van ’n nasionale operasionele vermoë binne die wetlike raamwerk.
  • Die vestiging van ’n nasionale veiligheidstelsel in samewerking met alle rolspelers.
  • Die skep van ’n nasionale bewustheid om gemeenskappe te mobiliseer om saam te werk in die stryd teen misdaad.
  • Die werf van nasionale en internasionale steun.

Die sprekers sluit in: Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, Yusuf Abramjee, gemeenskapsaktivis, wat sal praat oor die rol van gemeenskappe in die stryd teen misdaad en Mosiuoa Lekota, leier van Cope, wat sal praat oor sinergie tussen gemeenskappe en die staat.

Dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekekerheidstudies sal internasionale voorbeelde gee van hoe samelewings teen misdaad kan veg, terwyl Ben Freeth, ’n boer van Zimbabwe, sal verduidelik wat Suid-Afrika se voorland is indien niks gedoen word nie.

Om te registreer om die beraad by te woon, gaan na www.veiligheidsberaad.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Johan. H. ·

Enige ding sal werk , hou net die regering daaruit.
Voorspoed

dirk L ·

Uiters belangrik- dit kan nie so aangaan nie, ons dank u . Is daar reeds n wefwerf ? Ek hoop almal is so opgewonde soos ek. Elke persoon wat kan, stel julself asseblief beskikbaar indien moontlik.

Johannes ·

Waarom moes hulle die anti-Afrikaner aktivis en rasis Yusuf Abramjee ook uitnooi?

Ghia ·

En dit is hoekom ons niks kan bereik nie. In plaas van se dit is ‘n goeie idee om saam te werk om mense te beveilig het jy negatiewe kommentaar oor Yusuf.

E.K. - ek sê net! ·

Ek hoop baie mense gaan bywoon en dat sekuriteitsmaatskappye nou nei weer dink hulle woon op hul eie eilandjie en hoef nie te gaan want hulle “weet” hoe om die ding te doen nie. Enigeen kan leer en baat vind by bg

jaco ·

Kan iemand asseblief my vraag antwoord: wat is die regsimplikasies as ek ‘n indringer in my huis uit selfverdediging doodskiet en dan van moord aangekla word en ek kan nie regsverteenwoordiging bekostig nie? Gaan ek weens geen regsverteenwoordiging tronkstraf kry, of sal die polisie/hof steeds na “versagtende” omstandighede kyk? En dan wil ek ook weet, al het ek ook regsverteenwoordiging, is die straf wat ek kry as ek wit is en my slagoffer swart swaarder?

Paul Michau ·

Baie goeie plan en idee, hou ons asb op hoogte, vir die van ons wat nie daar kan wees nie maar ook wil help of poging aanwend om n verskil te maak, ons kan nie langer op ons louere sit en kla maar niks doen nie

Dankie ·

Ek wil net sê, ek is trots op hierdie mense. Julle is ware leiers, wat oplossings soek vir probleme en dit in werking stel, anders as ander wat nie eers belangstel om te hóór van ons probleme nie… Dankie vir wat julle doen. Wat sal ons doen as daar nie meer mense soos julle in ons land oor is nie?

Heleen ·

Hoekom het dit so lan geneem voordat iets gedoen word? Dit moes jare terug al gebeur het..hoop net dat die raad vinnig tot aksie sal oorgaan..

Peet J ·

Hierdie projek Nahemiah sluit seker aan by al die ander Nahemiah hulpprogramme vir die arm witmense wat in plakkerskampe gehuisves word.
Die buurt en plaaswagte in samewerking met die polisie en privaat sekuriteitsfirmas is dan alreeds in plek maar die krimineledade gaan maar steeds voort. Die idee om alle gemeenskappe met inligtingsbestuur en misdaadvoorkoming d.m.v. ‘n nasionale netwerk te voorsien klink belowend maar die probleem is hoe gaan al die gemeenskappe wat wyd versprei is bereik word en of hulle bereid gaan wees om hulle samewerking te gee.

lorayne ·

As Generaal Roland De Vries betrokke is, kan julle maar kom saamstaan! ‘n YSTER met integriteit wat vertroue inboesem! SALUUT!

Hans ·

Stem saam met Johannes-waarom die anti-afrikaanse/afrikaanse aktivis nooi!

Dirk01 ·

Jaco ek is geen regs kenner jy kan egter uit self verdediging n huisbreker dood skiet, daar is heel wat skrewe’s op die internet wat jou meer info kan gee.Indien jy gearresteer word en jy nie n prokureer kan bekostig sal die staat hulp vir jou aanbied . Enige onnatuurlike dood word onder soek, geregtlike ondersoek waar n docket oop gemaak word . Kyk op jagbuddies.co.za was daar n artikel deuur regs kenner oor jou regte om te skiet .

Dirk ·

Dit klink belowend en ek glo mense sal bereid wees om dit te ondersteun. Ongelukkig gaan dit nie die uitwerking he wat die sameroepers beoog nie. Jy kan hoeveel berade en konverensies hou om oplossings te vind wat meesal werkbaar is,maar indien die regering, die howe, die polisie en korrektiewe dienste nie hul samewerking gee en die regstelsel nie swaarder strawwe ople of korrektiewe dienste nie misdadigers harde tande in tronke laat kou sal die situasie bly waar dit tans is. Kriminele weet dat hul vakansie kry in tronke en dat die polisie laks is om ondersoeke behoorlik te doen.

Fanie kemp ·

Baie dankie Solidariteit en Afri Forum.Ons is dankbaar vir sulke organisasies en dit is hierdie soort aksies wat ons trots maak om lede te wees. Julle kerm en kla nie net heeldag oor toestande in die land nie maar is gedurig besig met positiewe aksies.
Ek sou graag beraad wou bywoon maar dis ongelukkig onmoontlik.
Sterkte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.