Kunsdiewe sny kosbare kunswerke uit rame

‘n Versamelaar in Secunda se skilderye wat deur diewe agtergelaat is. (Foto: Verskaf)

Skilderkuns ter waarde van sowat R2,7 miljoen is vroeër die maand uit die huis van ʼn private versamelaar in Secunda, Mpumalanga, gesteel deur die kunswerke netjies uit die rame te verwyder. Al wat die inwoners met hul tuiskoms aangetref het, was 44 leë rame wat die huis vol gestaan het.

Die versameling se totale waarde is sowat R6,5 miljoen en is die afgelope vyf jaar deur ʼn prokureur van Secunda as belegging aangeskaf.

Die skilderye wat vermis word, sluit in olieverfwerke deur van die land se bekendste kunstenaars soos Frans Claerhout, Stefan en Iris Ampenberger, Marie Vermeulen-Breedt, Jaco van Schalkwyk, Adriaan Boshoff, Eric Sher, Nasser Zadeh en Christiaan Diedericks.

Die leë rame wat ‘n prokureur van Secunda aangetref het nadat diewe glo waardevolle kunswerke gebuit het. (Foto: Verskaf)

Die eienaar van die kunswerke het aan Maroela Media gesê ses werke van Willem Pretorius was reeds in ʼn kombers toegedraai, maar is deur die diewe agtergelaat. Reuseskilderye van onder andere die kunstenaar Diane Victor is ook nie geneem nie, waarskynlik omdat dit te groot was om ongesiens te verwyder. Die eienaar het op voorwaarde van anoniemiteit met Maroela Media gesels, aangesien hy vrees dat diewe op die oorblywende kunswerke sal toeslaan indien sy identiteit bekendgemaak word.

Hy en sy lewensmaat was weg vir die naweek toe ʼn sekerheidsbeampte laat weet het dat daar ʼn kragonderbreking by hul huis is en dat die fout nie opgespoor kon word nie. Met hul terugkeer is die diefstal ontdek. ʼn Televisiestel en ʼn aantal kombuistoestelle en beddegoed is ook gesteel.

Die prokureur sê die werke wat vermis word, was nie te koop nie, maar was wel op Facebook en Instagram geplaas om vir hom as kunsbelegger naam te maak. Dit sou beteken dat sy 2 000 vriende op Facebook dus geweet het hoe sy versameling lyk.

“Hulle het egter nie my adres gehad nie. Dit het dalk op die ou einde teen my getel…,” was sy hartseer woorde. Hy het intussen sy Facebook- en Instagram-rekeninge gesluit.

“Elke liewe werk is vir my soos ’n kind wat ek vir altyd sal mis. Ek sal elke liewe dag hoop ek kry dit terug, maar my lewe bly belangriker.”

Hy is vasbeslote om steeds kuns te versamel en het reeds weer 10 werke ter waarde van R1,2 miljoen by Diane Victor bestel. “Hierdie insident sal nie my liefde vir kuns doodmaak nie.”

Ao. Marieta Wright van die polisie op Secunda ondersoek die saak en kolonel Danie Hall van die Valke in Middelburg is haar behulpsaam. Hall het aan Maroela Media gesê dat ʼn lys van die werke reeds aan afslaers gestuur is. Enige persoon met inligting word gevra om die ondersoekbeampte te skakel by 082 856 9322 of kol. Hall by 071 481 3281.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Oujongvrou ·

Voel jammer vir jou. Maar aan ander kant is die facebook n onding. En hierdie was nie jou gewone diewe nie. Is iemand wat nie daai skilderye wou beskadig nie.

Eerlik ·

Dis beslis n vriend/kennis, geen alledaagse rampokker ken die waarde van kuns nie en jou vriende het seker almal geweet julle is weg want dit word ook seker land en sand op sosiale media adverteer. Ek stem, bly weg van Facebook en twitter.

Elizabeth ·

Praat van rampokkers – en Ace Magashule het nie geweet die Pierneef skildery wat in sy kantoor gehang het is miljoene werd nie?

Karina ·

Maak asb. seker dat alle woorde korrek gespel is: “anonimiteit” en nie “anoniemiteit” nie!

Wonder net ·

Anonymity Afrikaans Meaninganoniem, anonimiteit the state of being anonymous / The quality or state of being anonymous / state of being nameless; anonymousness / the condition of being anonymous. / the quality or state of being unknown to most people : the quality or state of being anonymous

mattk ·

……. en die Sekerheidsmaatskappy kon nie sien daar is ingebreek nie????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.