Kunsmatige long help kleuter wat byna verdrink

Dan-Roux se ouers het hom die bynaam ‘Bees’ gegee, omdat hy so sterk soos ‘n Bees is (Foto: Verskaf)

Annelize en Stephen Page van Pretoria sê ondanks die terugslae is hulle hoopvol dat hul driejarige seuntjie, Dan-Roux (Bees), sal herstel nadat hy byna verdrink het. Dít danksy ʼn mediese prosedure waartydens ʼn kunsmatige long aan die kleuter gekoppel is om sy longfunksie te verbeter.

Dié kleuter is steeds ná byna twee weke onder verdowing in die intensiewesorgeenheid van die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg.

Die gesin het op 6 Junie by vriende in Centurion gekuier toe Dan-Roux in die swembad beland en byna verdrink het.

Maroela Media het vroeër berig Stephen het Dan-Roux vanuit ʼn venster in die huis in die swembad gewaar en dadelik gereageer. Sy vriend het hom uit die swembad getrek en hy en Stephen het byna vyf minute lank kardiopulmonêre resussitasie (KPR) toegepas. Hulle het daarna hospitaal toe gejaag.

By Garden City het dokters die kleuter in ʼn kunsmatige koma geplaas terwyl dokters sy hart, longe en brein dopgehou het om vas te stel of daar enige skade is. Hy is tans steeds onder verdowing.

Annelize vertel daar was sedertdien baie verwikkelinge.

“Bees was vir ʼn prosedure, genaamd Ecmo, waar hulle ʼn kunsmatige long aan hom gekoppel het. Die masjien word deur die nek direk aan die hart en brein gekoppel, waar hulle sy bloed deur hierdie eksterne, kunsmatige long pomp en dan weer terug in sy lyf pomp,” vertel Annelize.

Annelize sê met só ʼn proses is daar wel nog ʼn kans vir die longe om te herstel. Dit neem egter tussen twee tot ses weke voordat enige herstel wys, na gelang van hoe die persoon se liggaam reageer.

“Voor die operasie was daar ʼn 83%-kans vir permanente longskade en die proses het dit na 30% afgebring. Die proses help ook om al die spanning van Bees se lyf en longe af te haal sodat sy liggaam kan rus en herstel.

“Ons verstaan nie al die mediese terme en redes nie, maar weet Bees is in ʼn ernstige toestand. Die dokter het wel gesê hierdie proses word slegs op pasiënte gedoen as daar nog ʼn kans vir herstel is. So, dis darem iets positiefs.”

Annelize sê die onlangse X-strale en skanderings het wel verbetering van die longe getoon.

“Sy nierfunksie lyk tot dusver goed, hoewel dit elke uur gemonitor word omdat die niere oortyd werk weens al die medikasie.”

Annelize sê intussen wag en bid hulle.

“Ons mis ons besige boetie Bees.”

Laerskool Rooihuiskraal in Centurion het op sy Facebookblad ʼn inskrywing gemaak waarin die skool gebede vir Dan-Roux versoek. Annelize is ʼn onderwyseres by dié skool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ANELEE ·

BAIE STERKTE AAN JULLE EN DIE OU ENGELTJIE ,EK WEET DIE HERE HET HOM IN SY HANDE STYF VAS EN DAT HY VINNIG SAL HERSTEL ,EK HOU JULLE IN MY GEBEDE .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.