Kunstenaar David Koloane oorlede

David Koloane (Foto verskaf)

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar David Koloane is in die ouderdom van 81 oorlede. Koloane is Sondagaand by sy huis in Johannesburg oorlede. Hy is in 1938 in Alexandra gebore.

Hy het as ʼn mentor gedien vir jong kunstenaars en was onder andere betrokke by die oprigting van die eerste Swart Kunsgalery in 1977, die Thupelo- eksperimentele werkswinkel in 1985 en die Bag Factory Artists’ Studio in 1991, waar hy jare lank as direkteur gedien het. Hy was ook ʼn dosent aan die Federated Union of Black Artists in 1979 en was die hoof van die fynkunstegalery van 1985 tot 1990.

Hy het die menslike toestand uitgebeeld en kommentaar gelewer op sosio-politiek met Johannesburg as primêre onderwerp, het die Goodman Galery gesê. Hy het Johannesburg onder andere uitgebeeld deur die stadslandskap, informele nedersettings, straatlewe, jazzmusikante, verkeersknope, migrasie, vlugtelinge, honde en voëls.

Hy was as kurator ook betrokke by verskeie geskiedkundige uitstallings, soos die 1982 kultuur- en weerstandskunsfees in Botswana, die 1990 Zabalaza-fees in Londen, en in 1995, ook in Londen, die Suid-Afrikaanse been van Seven Stories oor moderne kuns in Afrika.

Sy werk is plaaslik en internasionaal wyd uitgestal.

Die regering van Nederland het Koloane in 1998 vereer met die Prins Claus-toekenning vir sy bydrae tot Suid-Afrikaanse kuns. Hy het twee keer ʼn eredoktorsgraad ontvang, een van die Universiteit van die Witwatersrand in 2012 en een van Rhodes-universiteit in 2015.

Liza Essers, eienaar en direkteur van die Goodman Galery, het gesê sy het 15 jaar gelede saam met David begin werk as onafhanklike kurator. “Ek het gesien hoe hy mense met dieselfde respek behandel – maak nie saak wat hul posisie of stand in die samelewing was nie. Hy was ʼn saggeaarde, goedhartige mens wat sy studente en medekunstenaars altyd eerste geplaas het. Sy lewe en werk is ʼn getuigskrif van ʼn onblusbare gees en die vermoë om uitdagings met nederigheid te oorkom. Sy nalatenskap is ʼn onmeetbare bydrae tot Suid-Afrikaanse kuns. Hy sal gemis word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Heidi ·

Uitstekende kunstenaar, RIP Sterkte en God se liefde aan geliefdes wat agterbly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.