Kunstenaar platgeslaan na boewe juwele uit kunsgalery buit

Sommige van Amanda Ferreira se gesteelde kunswerke.

Amanda Ferreira, ʼn juwelierskunstenaar van Centurion, is platgeslaan nadat diewe Vrydagaand sowat 20 van haar unieke kunswerke uit ʼn galery in Garsfontein, Pretoria, gesteel het.

Die juwele van amper R50 000 was daar op uitstalling, het haar man, die gospelsanger Leon Ferreira, Sondag gesê.

“Amanda is heel moontlik die enigste Suid-Afrikaanse juwelierskunstenaar wat vir jare reeds werke skep in die bykans drieduisend jaar oue medium van cloisonné emalje. Haar werk is daarom besonders uniek en uitkenbaar,” het Leon Ferreira gesê.

Volgens hom is cloisonné emalje-werk uiters tydsaam en verg dit ʼn hoë mate van vaardigheid en talent wat, soos met alle kunsvorms, net deur jare se ondervinding verbeter in gehalte. “Die gesteelde stukke is die resultaat van ongeveer twee maande se voltydse werk, spesiaal vir die uitstalling,” het hy gesê.

Amanda Ferreira se werk is ook al in die buiteland uitgestal.

Die juwelierskunstenaar Amanda Ferreira. (Foto: Facebook)

Leon Ferreira sê vreemd genoeg het net Amanda se kunswerke – met die uitsondering van ʼn enkele stel oorbelle van ʼn ander kunstenaar – in die slag gebly. Verskeie ander stukke was onaangeraak.

Volgens hom is ʼn televisiestel, ʼn DVD-speler en ʼn skootrekenaar ook uit die galery gesteel.

Amanda het intussen foto’s van die gesteelde kunswerke geplaas en by die publiek gepleit om op die uitkyk daarvoor te wees.

Leon het gesê Amanda is geweldig hartseer oor die verlies. “Elke stuk is mos maar deel van ʼn kunstenaar se wese …”

Maroela Media het ʼn navraag oor die voorval aan die polisie gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stan ·

Jammer vir jou verlies maar moet sê daardie dief het baie duur & goeie smaak!

Ria Haupt ·

Waar is ons nog veilig of ons items. Amanda ek bid dat jy alles sal terugkry in n ongeskende toestand. Met ons inbraak 4 jaar gelede het ek erfstukke van perels verloor en nerens is daar sulke stukke te vinde nie. Maak n mens se hart so seer, Bid dat dit nog vandag ruggevind sal word. Baie Sterkte

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.