Kunstenaar se moordenaars word gevonnis

Clinton de Menezes Foto: Facebook

Clinton de Menezes Foto: Facebook

Vier mans wat verantwoordelik is vir ʼn reeks gewapende rooftogte, waartydens een van Suid-Afrika se bekende kunstenaars, Clinton de Menezes, dood is, word Vrydag in die hooggeregshof in Durban gevonnis.

Regter Ester Steyn het Donderdag aangedui sy sal Siyabonga China Khoza (25), Lungani Tevin Ngidi (23), Bongani Makhatini (28) en Fisto Alimasi (26) vonnis nadat sy die getuienis aangehoor het van persone wat verduidelik het tot watter mate hulle deur die rooftogte geraak is.

Khoza, Ngidi en Makhatini is in Maart skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede, poging tot moord en huisbraak.

Alimasi, van die Demokratiese Republiek van die Kongo, is skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede en huisbraak.

Maroela Media het vroeër berig De Menezes is op 31 Desember 2013 dood toe hy in die bors geskiet is. Hy het probeer om Khoza, Ngidi en Makhatini te verhoed om Simon Malpas se huis te betree, waar hy by sy vrou en dogter gekuier het.

Die drie het op 29 Desember 2013 by Gail Hamilton se huis ingebreek.

Hulle het ook op 13 Desember 2013 by Graham en Barbara Payne se huis ingebreek. Graham is in die heup geskiet.

Alimasi het die rooftogte gekoördineer en die gesteelde goedere in ontvangs geneem.

De Menezes se suster Jacqui Durandt het aan die hof verduidelik hoe die skietery hul familie getref het. Sy het gesê De Menezes se dogter Eva en vrou Nicola Saward, wat nou in Londen bly, is te bang om by familie in Suid-Afrika te kom kuier. Saward kon vir bykans ʼn jaar lank ná die tragedie nie werk nie. Sy is gediagnoseer met post-traumatiese stres (PTSD). Eva begin paniekerig raak wanneer sy nie weet waar haar ma is nie. “Ek het nie net ʼn boetie verloor nie, ek het ʼn hele familie verloor,” het Durandt gesê.

Haar ma, wat altyd sosiaal verkeer het, is nou bykans ʼn kluisenaar en drink ʼn antidepressant. Haar pa sukkel met maagsere sedert die tragedie.

Graham Payne het aan die hof gesê hy het ten volle herstel ná die skietery, maar uit vrees ná die skietery, het hy en sy gesin die huis ná 33 jaar verkoop en verhuis. Sy vrou het maande lank geweier om huis toe te kom tensy sy geweet het iemand wat sy ken, is tuis. “Daar bestaan geen twyfel nie dat die gebeure ons gedwing het om te verhuis,” het hy gesê.

Gail Hamilton het gesê sy is ʼn las vir haar familie, want sy is te bang om alleen te wees en sy eis dat iemand altyd by haar sal wees. “Ek kan nie meer alleen wees nie. As ek iets buite hoor, is ek nog steeds bang,” het sy gesê. Berading het nie gehelp nie.

De Menezes het drie jaar lank in Kenia gewoon toe hy dood is. Volgens Durandt was hy van voornemens om terug te keer na Suid-Afrika. Sy werk is in kunsgalerye in New York en Londen uitgestal en sy afsterwe het wêreldwyd hoofopskrifte gehaal. Klik hier en besoek Clinton se Facebook-blad om van sy werk te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.