Kunsteraad vra hof om sitstakers te laat loop

Mense kom byeen buite die Kunsteraad se kantoor in Johannesburg as deel van die protes. (Foto: Creative Survivor SA/Facebook)

Die Nasionale Kunsteraad (NAC) het hom in ʼn dringende aansoek tot die Johannesburgse hooggeregshof gewend om ʼn groep sitstakers wat sy kantore sedert verlede maand beset, te laat verwyder.

Regter Motsamai Makume sal die aansoek na verwagting Dinsdagoggend aanhoor.

Die NAC vra die hof vir ʼn bevel wat die sitstakers dwing om sy perseel te verlaat en nie weer terug te kom nie.

Die aansoek is onder meer teen die operasangeres Sibongile Mngoma en alle ander besetters van die kantoor in Johannesburg.

Die groep kunstenaars beset al 35 dae lank die raad se kantoor nadat hy vroeër R300 miljoen ter noodfinansiering aan die kunstebedryf bewillig het, maar nou versuim om die geld uit te betaal.

Mngoma het die afgelope naweek op Facebook geskryf die raad het steeds nie met hulle beraadslaag nie en het eerder stilletjies dokumente oor die hofaansoek in die ontvangslokaal neergesit.

“Die geld is steeds nie betaal nie. Die NAC se bestuur en raad is vol skurke wat net hul eie spore wil uitwis. Hulle moet waai,” het Mngoma geskryf.

Sy het Dinsdagoggend gesê heelwat gebeur vandag, “al wat nie gebeur nie is dat die NAC se bestuur en raad verantwoordelikheid en aanspreeklikheid aanvaar”. Mngoma sê die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, steun dié korrupsie.

“Tot wanneer? Wat is fout met die land se leiers? Verdien ons hierdie misbruik van die regering waarvoor ons gestem het? Dit is genoeg,” sê Mngoma.

Maroela Media het vroeër berig Mngoma het op 1 Maart vroualleen by die kunsteraadkantoor opgedaag en antwoorde geëis. Die raad kon egter nie aan haar versoek om ʼn lys van aansoekers en eise wat reeds betaal is, voldoen nie.

Mngoma het die volgende dag wéér ʼn pleidooi gerig en steeds nie antwoorde gekry nie. Medekunstenaars het hiervan gehoor en by Mngoma aangesluit. Sedert 4 Maart deurnag talle van hulle by die kantoor in Newtown.

Mngoma het vandeesweek gesê die raad het steeds nie gesê watter eise reeds uitbetaal is nie.

Buiten die groep wat by die kantoor deurnag, kom kunstenaars ook daagliks buite die kantoor bymekaar. Lizz Meiring, bekende aktrise en raadslid van die Teaterbystandfonds (TBF), het onder meer ingespring om saam met vriende maaltye vir die sitstakers voor te berei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Misky ·

Hulle is stil, brand niks nie en “sit” net daar om die boodskap oor te bring…. Moet hulle ook brand, plunder en moor voor hulle gehoor sal word??? Beloon mense wat dinge op die regte manier doen en fondse wat reeds aan hulle toegeken is. Waar is al daai geld en selfs die rente wat dit daagliks beloop? Moet hulle ook stilbly en wag tot daai geld “voete groei en wegloop”?

Tiptol ·

Dalk moet die SAA personeel wat nie betaal is nie, by OR Tambo gaan intrek. Sulke optrede is die enigste manier om aandag te trek.

Hennie ·

Jip, stem volgende keer reg! Julle pluk nou die vrot vrugte van jul verkeerde swartgallige stemme! Ek sukkel om simpatie te hê in hierdie situasie!

Elize ·

Poef daar trk die geld…. weg in ‘n stofwolkie. Niks is meer oor nie. Begin hulle bates verkoop sodat die kunstenaars kan lewe.

jzjz05 ·

Hulle kan nie betaal nie want hulle het dit nie meer nie en niemand kan se waar dit is nie ,dit het net verdamp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.