Kunsuitstalling vier 60 jaar van republiekwording

“Presidente en Premiers” kan tot einde September by die Erfenissentrum besigtig word. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Dit is vanjaar 60 jaar sedert Suid-Afrika ʼn republiek geword het. Die Federasie vir Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) het die dag herdenk met die bekendstelling van ʼn kunsuitstalling, getiteld Presidente en Premiers.

Volgens prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, bied die herdenking van hierdie geskiedkundige moment Afrikaners die geleentheid om weer oor die betekenis van leiers en gebeurtenisse na te dink.

“Mislukkings en prestasies, sterk en swak leiers, goeie en slegte besluite het alles deel gevorm van die jong republiek en hom gebring tot waar die land vandag is. Die kritiese vraag is: Kan ʼn mens die ideologiese raamwerk van goed en kwaad, asook die Weste teen die res op hierdie leiers afdwing?”

Volgens prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, bied die herdenking van hierdie geskiedkundige moment Afrikaners die geleentheid om weer oor die betekenis van leiers en gebeurtenisse na te dink. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Prof. Goosen het bygevoeg dat leiers soos HF Verwoerd, wie se borsbeeld deel van die uitstalling vorm, in die wêreld se oë ʼn omstrede figuur is.

“Tog moet ʼn mens onthou hulle het eietyds gehandel met die insig tot hulle beskikking. Dit is natuurlik nie ʼn verskoning vir die foute wat wel gemaak is nie en as volwassenes moet ons kan kritiek uitspreek oor hulle leierskap, dit verwerk en uit daardie foute leer.”

Prof. Goosen het egter gemaan dat as daar oor respek en geregtigheid in ʼn diverse land besin word, kan een groep se kritiese oordeel nie tot die enigste norm bo ander minderheidsgroepe verhef word nie.

“Ons moet vra: Wat was ons eie ervaring van dié leiers? Dié soort uitdagings het ons nog altyd die enorme geleentheid gebied om met verbeeldingryke oplossings op die vrae van ons tyd te antwoord.”

Van die kunswerke wat tans deel van die “Presidente en Premiers” se uitstalling is. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Altesaam 12 borsbeelde en agt portrette van voormalige staatsleiers van die tydperk is uit die kunsstoor gehaal en afgestof om deel te vorm van die uitstalling by die Erfenissentrum van die Voortrekkermonument in Pretoria.

Die beelde en portrette is op permanente leengebruik van die Uniegebou en ander staatsdepartemente, wat nie meer die kunswerke wou gehad het nie. Volgens Daniël Goosen, wat oor ʼn BA-honneursgraad in visuele kultuurstudies beskik en vanjaar sy internskap by die FAK doen, is die kuns afgewaardeer tot ʼn randwaarde van nul om dit teen diefstal te beskerm.

Presidente en Premiers kan tot einde September by die Erfenissentrum besigtig word en die uitstalling word in die komende maande deur ʼn reeks gesprekke oor die konteks, nalatenskap en betekenis daarvan vir Suid-Afrika as hedendaagse republiek opgevolg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Hans ·

Ons was n republiek….. tot 1994
Nou is ons n rower spelonk

Wakkerslaper ·

Goeie werk! Ons Boere sal ons geskiedenis SELF bewaar!

Jaco ·

Die FAK was in die ou SA die openbare vleuel van die Afrikaner-Broederbond. Die Broederbonder was weer die geheime “dinkskrum” agter die regerende Nasionale Party, wat jobs vir hulleself gereserveer het (Afrikaner kaderontplooiing?) en die Nasionale Party se toegee- en uiteindelik oorgeebeleid vanaf die laat 1970’s geformuleer het. En nou raak dieselfde FAK nostalgies oor die Republiek wat hulle en die Broederbond en die Nasionale Party juis laat ondergaan het. Lekker dubbele standaarde…

ChrisR ·

In Desember 1938 het die herboude Voortrekkerwa, die Johanna van der Merwe, naby die teenswoordige Groblershoop oorgestaan op pad na die groot Geloftefees in Pretoria. 
Saam met hulle Gelofteprogram het die omgewing se mense van ‘n klomp klippe ‘n monumentjie opgerig, wat vandag verlate langs die pad Upington toe staan. Hierdie klippe is vier jaar vantevore daarheen gedra vir die amptelike opening van Boegoebergdam en sy kanaal waaruit 4 000 hektaar besproei word. 
Die monumentjie gedenk die armblankes wat met pik en graaf kom dam bou het vir ‘n karige loon en die kans om dalk een van die besproeiingserwe van sowat ses hektaar te kon koop. 
Dis nie van luiheid, slegtigheid of gebrek aan prestasie wat die mense arm was nie. ‘n Lang rits vernietigende terugslae het hulle ellende veroorsaak:Die runderpes van 1896, die Engelse se vernietigingstog van die Tweede Vryheidsoorlog, die bek-en-klouseeruitbraak, die wêrelddepressie van 1929 en die groot droogte van die vroeë negentien-dertigs.

ChrisR ·

Armblankes het die kans aangegryp om by Boegoeberg met uitmergelende werk ‘n hongerloon te verdien. Geen vermetele “we demand” nie; geen neiging na misdaad nie; geen grype na die vrug op andere se arbeid nie; geen geweld, bandeloosheid of veragterliking nie. 
In die grootste ellende het hulle hulle beskaafdheid, hulle waardigheid, hulle geloof en hulle strewe na selfverbetering en hoër waardes behou. 
Die magtige Oranjerivier is met die hand getem. Fondasies is met die hand gegrawe. Dinamietlaaigate van tot twee meter diep is met die hand in die rots geboor. Koekepanne met sand en beton is met die hand gestoot. 
Skaars, troebel, vuil water is ver met die hand aangedra. Wanneer die rivier droog was, is gorras in die bedding gegrawe. 
Kinders so jonk as nege jaar het, na ‘n dag se harde werk sonder hoed of skoene in die skroeiende son, saans by olielampies, gemaak van blikkies met pitte van stukkies lap, geleer.

ChrisR ·

Uit die ellendige omstandighede het een van Boegoebergdam se dogters die nasionale Bybelkenniseksamen gewen.
Niks is verniet gekry nie. Hulle moes self skoolmeubels prakseer van blikke en afvalplanke. Elke dingetjie wat die staat gegee het is noukeurig aangeteken en van die werkers se gasie afgetrek. Kinders het hase, tarentale en duiwe gejag en vis gevang sodat hulle gesinne kon oorleef. 
Humor het die verarmde mense met hulle bloeiende hande help staande bly. Verhonger en met soms skaars genoeg water om te drink, het hulle die geestige ironieboodskap die wêreld ingestuur: 
Boegoeberg se dam is ‘n doodlekker dam. 
Dis daar waar die meisies hulle hare was en kam. 
Glasies word geklink as ons vaaljapie drink. 
Boegoeberg se dam is ‘n doodlekker dam. 

ChrisR ·

‘n Volk met so ‘n humorsin kán nie verloor nie. ‘n Volk met soveel veerkrag, daadkrag, werkkrag en geloofskrag móét voortbestaan waar ander eerloos sal vergaan. 
Boegoeberg bewys weer: Die Boerevolk se welvaart, waarop andere vandag so gierig aanspraak maak, het nie uit die lug geval nie. Dit is verwerf met opoffering en harde werk. 
Laat ons dankbaar wees om lede van ‘n trotse, eerbare volk te wees wat homself uit die ellende kan werk en presteer… en laat ons die kan-nie-verloorgees van ons voorsate voortsit.

Jaco ·

Hoekom het dieselfde wonderlike volk dan so maklik oorgegee???

Anna-marie ·

Goeie skrywe. Ek het dit nou baie geniet om dit te lees. Die probleem is van daai volk (met veerkrag, werkkrag, geloofkrag) het net ‘n handjievol oorgebly. Die res is nie die moeite werd nie.

ChrisR ·

Ek is so bly jy het dit geniet…..n handjie vol is net ek en my familie….glo daar is baie meer as net ek en my familie. Ek het hierdie geplaas om net so iets positief te bring. Ek sien in baie kommentare hoe bitter mense is en so aan gaan oor hoe sleg dit gaan….ek was al in ander lande………nie so nice soos die TV jou wys. Ek is lief vir my land en almal om my. Ek het een lewe en gaan probeer om hom gelukkig te leef. Daai volk is nog hier….ek neem aan jy is ook deel van die handjie vol?

Eugene ·

Sou graag bietjie kommentaar by elke foto wou sien. Sulke fotos is nutteloos

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.