Kuruman-kinders keer terug skool toe

Argieffoto

Argieffoto

Leerlinge in Kuruman in die Noord-Kaap het Maandag teruggekeer skool toe ná maande lange betogings en ontwrigtings om ʼn nuwe pad in die gebied te bou.

“Die leerlinge het vanoggend teruggekeer na die onderskeie skole toe,” het Ohentse Stander, woordvoerder vir die departement van basiese onderwys in die provinsie, gesê. “Daar was gister ʼn groot vergadering en die ouers het die besluit geneem dat die kinders na die skool kan terugkeer.”

ʼn Groep wat hulself die Road Forum noem, het in Junie begin betoog en geëis dat ʼn 130 km stuk pad in die John Taolo Gaetsewe-distriksmunisipaliteit geteer moet word. Die betogers het skoliere en personeellede verhoed om skool toe te gaan om sodoende die owerhede se aandag te trek.

Monwabisi Nkompela, woordvoerder van Noord-Kaapse premier Sylvia Lucas, het gesê die tender om die pad te teer is op 12 Junie vrygestel en het op 18 Julie gesluit. Die administratiewe geboue by sommige skole is in Julie afgebrand. Troy Martens, nasionale woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het gesê 16 000 leerlinge van 54 skole word deur die betogings geraak. Altesaam 496 leerders is in matriek. Die leerlinge was laas op 4 Junie in die skool.

Volgens die SAUK het Dipuo Peters, minister van vervoer, vroeg in September gesê konstruksiewerk om die pad te teer, sou binne twee weke begin. Haar woordvoerder, Tiyani Rikhotso het Maandag gesê hy sal probeer bepaal of daar al met die werk begin is.

Lees ook:
Kuruman-matrikulante gederegistreer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.