Kuruman-matrikulante gederegistreer

Argieffoto

Argieffoto

Meer as 450 matrikulante van Kuruman in die Noord-Kaap is gederegistreer om vanjaar hul matriekeksamen af te lê.

“Ons wil vir hulle die geleentheid bied om voor te berei vir die hereksamen in Februarie 2015,” het Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, Vrydag gesê. “Ons het baie tyd verloor. Dit is onmoontlik om die verlore tyd in te haal.”

Troy Martens, woordvoerder vir die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga het op 28 Augustus gesê die minister oorweeg ʼn kamp vir matrikulante van Kuruman ná skole hul deure moes sluit weens ʼn uitgerekte betoging oor ʼn pad in die gebied. “Dit is vir ons ʼn groot kommernis, want leerlinge was laas op 4 Junie in die skool,” het Martens gesê.

Sy het gesê altesaam 16 000 leerlinge, waarvan 495 matrikulante, by 54 skole in die gebied deur die betoging geraak is.

Motshekga was op 27 Augustus in die gebied om met die gemeenskap te vergader, in die hoop dat die skole weer sal oopmaak. Die gemeenskap het egter volgehou dat die situasie nie sal verander nie. ʼn Groep wat hulself die Road Forum noem, het in Junie begin betoog en eis dat ʼn stuk pad van 130 km in die John Taolo Gaetsewe-distriksmunisipaliteit geteer moet word. Die betogers het leerlinge en onderwysers verhoed om skool toe te gaan om die owerhede se aandag te trek.

Monwabisi Nkompela, woordvoerder vir die Noord-Kaapse premier Sylvia Lucas, het gesê die tender om die pad te teer is op 12 Junie vrygestel en het op 18 Julie gesluit. “Die tender is nou in die stadium waar die projekbestuurders van die departement van paaie en openbare werke moet oorweeg watter bieër die tender gaan ontvang,” het Nkompela gesê.

Van die skole se administratiewe geboue is in Julie afgebrand.

Martens het gesê Motshekga is bekommerd oor die leerlinge se veiligheid en sy sal met die departement van provinsiale onderwys en ouers vergader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Francois ·

Goed so! Dalk het daai ou nou die dag ‘n punt beetgehad toe hy gesê het die onderwysers moet minder betaal word omdat hulle nie resultate kan lewer nie.

Kellies ·

Ek weet nie hoekom “worry” almal nie. Los hulle uit. As hulle hulle eie kinders wil keer om skool toe te gaan, laat hulle dit doen. dit is hulle wat dom bly en verloor. nie ons ander wat leer en vooruit gaan nie.

Linda van Mosselbaai ·

Ek kan nie glo dat die minister van Onderwys – die president van ‘n land – sulke optredes kan toelaat nie. Die Engelse sê “bad mangement starts at the top” Mag hierdie situasie NOOIT weer plaasvind in Suid Afrika nie. In die ou Suid Afrika het die weermag altyd gaan help as dinge so handuitruk!

My hart gaan uit na die leerders wat ook toekoms drome het
en wat sleg is dat volwassenes hulle faal!

Leerders byt vas – glo aan julle drome en werk hard om dit te bereik – jy werk net vir jouself en jou toekoms. Sterkte ook aan die onderwysers wat in die haglike omstandighede moet red wat daar te redde is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.