Kuruman-plaasmoord: Boer dalk uit wraak vermoor

Christo en Vera Kruger. Foto: Facebook

Christo en Vera Kruger. Foto: Facebook

Christo Kruger (63), die boer wat verlede week op sy plaas, Byron, in die Kuruman-omgewing doodgeskiet is, is vermoedelik uit wraak vermoor.

Jan-Sarel Kruger (31), Christo se seun, het Maandag aan Maroela Media gesê die familie vermoed ʼn voormalige werker het sy pa vermoor.

Christo is Donderdag omstreeks 20:00 drie keer in die bors geskiet nadat hy ʼn geluid buite gehoor en ondersoek gaan instel het. Sy vrou, Vera (59), was in die huis en het gesien hoe haar man geskiet word. Sy is egter nie in die aanval beseer nie. Lt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het gesê niks is tydens die aanval gesteel nie.

Jan-Sarel vertel sy pa het verlede jaar teen ʼn voormalige plaaswerker getuig nadat laasgenoemde glo sy bakkie en ʼn paar skape gesteel het. “Ek praat onder korreksie, maar sover ek weet, is die werker vroeër vanjaar skuldig bevind, maar wel op borgtog vrygelaat omdat hy ʼn eerste oortreder was. My pa was die hoofgetuie in hierdie saak en daarom vermoed ons hy is uit wraak vermoor.”

Die Kruger-egpaar het die afgelope drie jaar op die plaas gewoon nadat hulle jare lank ʼn wegneemkosonderneming in Kuruman bedryf het. Die plaas is egter al geslagte lank in die familie en Christo het die bees- en skaapboerdery by sy pa oorgeneem.

“My pa was die tipe mens wat altyd die beste van almal geglo het. Hy het nooit gedink iemand sal regtig iemand anders kwaad aandoen nie. Hy het van alle mense gehou en met enigiemand gepraat,” het Jan-Sarel gesê. “Hy was ʼn bekende naam in die gemeenskap, en hy het regtig vir sy kinders geleef. Ons was die belangrikste in sy lewe.”

Die familie wag nog om te hoor wanneer die nadoodse ondersoek op Christo se liggaam afgehandel sal wees, maar beplan om Saterdag ʼn intieme gedenkdiens vir hom op die plaas te hou, het Jan-Sarel gesê. Christo sal op die plaas begrawe word. Hy laat sy vrou en vier kinders agter.

Kock het Maandagoggend gesê niemand is nog vir die moord in hegtenis geneem nie. Hy het ʼn beroep gedoen op mense met inligting wat die polisie in die ondersoek kan help om lt. Victor Mabena by 082 090 2917 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Vicky Botha ·

Dit is bitter tragies. En die hartseer is almal moor. En kry die ligste straf denkbaar

Lappop ·

Tragies. Innige simpatie aan al sy geliefdes.
Dit is die eerste oortreding waarvoor hy gevang is.

Peet Schabort ·

Hy is skuldig bevind maar op borgtog vrygelaat? Iets rym nie. Ek reken dat die seun se vermoede reg is. Haat teen boere word aangeblaas deur die “Kill the boer”- en Zuma se “Umshini wam”-liedjies. Natuurlik is die voormalige plaaswerker ook nou nêrens te kry.
Sterkte aan die familie.

ladybug ·

Wraak geneem … hopelik word hy gou gevang en sit ewigheid en nog ‘n bietjie agter tralies, want dan is hy nie meer ‘n eerste oortreder nie!

Whitey ·

Ek vra net, dis iets waaroor mens wonder en niks se nie:’ Moorde raak erger, agressie en haat~! Hoelank nog voor dit tot so mate vermeerder en glad nie meer beheer kan word nie? Dalk n tweede Angola van 42 jaar gelede, of is ek nou regtig verkeerd? Wat is die realiteit, waarheen beweeg ons? Of is daar hoop wat ek nie sien nie? Ek bid baie vir ons land, boere en stede. Net GOD kan help. Mens lewe, lag en probeer positief wees, maar daar is ‘n realiteit om werkloosheid, wanorde, misdaad en rassehaat!

Kapél ·

Suid Afrika, word wakker!! Mooipraat en hand-om-die-blaas-loop werk nie. Dit lei net na die hartseer van moorde, die ongelukkigheid van onregverdige bevoorregting, onsteltenis van daaglikse misdaad en geen respek, die sirkus van die Nkandla-sage, die uitgebuite weerloosheid van kind/vrou/bejaarde, ens… Ons vervladderde land breuk, knars en huil onder die chaos; Die ironie is dat ons ‘n hand daaraan het en dus slegs ons kan ‘n verskil maak; ‘n omdraai…Kom ons keer terug na die Bybel; basiese beginsels van “REG of Verkeerd”, integriteit, trots as nasie…Kyk na Singapor se omkering en BRING TERUG DIE GALG VIR MOORDENAARS!! My innige meegevoel aan die familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.