Kuruman-plaasmoord: Derde verdagte vasgetrek

Konst. Tshepo Seleka saam met die derde verdagte, Frank Swarts. Foto: SAPD

Konst. Tshepo Seleka saam met die derde verdagte, Frank Swarts. Foto: SAPD

Die polisie het Dinsdag omstreeks 22:00 ʼn derde verdagte vasgetrek vir die moord op Christo Kruger (63) wat op 28 Mei op sy plaas naby Kuruman doodgeskiet is.

Lt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het gesê Frank Swarts is by sy huis in Bankhara, Kuruman, in hegtenis geneem. “Daar is op ʼn Musgrave 306-geweer beslag gelê. Swarts het vandag [Donderdag] in die Kuruman-landdroshof verskyn en die saak is tot 15 Junie uitgestel.”

Swarts se medebeskuldigdes, Frank Itumeleng (22) en Ben Thabo (19), is vroeg Saterdagoggend in hegtenis geneem. Itumeleng en Thabo het albei voorheen op Kruger se plaas gewerk.

Christo en Vera Kruger. Foto: Facebook

Christo en Vera Kruger. Foto: Facebook

Maroela Media het voorheen berig Christo is omstreeks 20:00 die aand drie keer in die bors geskiet nadat hy ʼn geluid buite gehoor en ondersoek gaan instel het. Sy vrou, Vera (59), was in die huis en het gesien hoe haar man geskiet word. Sy is egter nie in die aanval beseer nie. Niks is tydens die aanval gesteel nie.

Jan-Sarel Kruger (31), Christo se seun, het net ná sy pa se moord gesê die familie vermoed ʼn voormalige werker het sy pa vermoor omdat sy pa teen die werknemer getuig het nadat laasgenoemde glo sy bakkie en ʼn paar skape gesteel het. Volgens Jan-Sarel is die werknemer vroeër vanjaar op borgtog vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lappop ·

In die pers word ons altyd deeglik ingelig van die polisie se vastrek van die, en die oopkrap van daardie, die inhegtenisneming van verdagtes, ‘n klopjag hier en ‘n padblokkade daar.(moenie vergeet hoeveel van die, met die hulp van “tips” nie) Wat help dit hulle neem so baie in hegtenis as hulle net weer ontsnap, of op parool vrygelaat word. Ek wonder hoeveel kriminele, wat skuldig bevind is, sien nooit die binnekant van ‘n tronk nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.