Die liggame van die laaste twee van die vyf mynwerkers wat ondergronds by Harmony Gold se Kusasalethu-myn in Carletonville vasgekeer was, is gevind.
Harmony Gold het bevestig reddingswerkers het die oorblywende twee mynwerkers se liggame opgespoor en na die oppervlak gebring.
Die vyf myners is Vrydag ondergronds vasgekeer toe ʼn grondstorting omstreeks 10:30 plaasgevind het. Harmony het bevestig ʼn seismiese trilling van 1.8 het 3,1 km ondergronds plaasgevind.
Die eerste liggaam is Saterdag na die oppervlak gebring. Nog ʼn liggaam is Sondag gevind en die derde is Maandag opgespoor.
Die oorledenes is intussen as mnre. Matuba, Mokhele, Mokemane, Moganedi en Sethafuno geïdentifiseer.
Harmony se bestuur het sy innige meegevoel met die oorledenes se familie, vriende en kollegas betuig en onderneem om die nodige bystand te bied.
Lees alle vorige berigte oor die Kusasalethu-myn op Maroela Media.
Ag siestog! Ek dink mens hoop tot op die laaste oomblik dat ‘n wonderwerk gebeur het en jou geliefde lewend uit die myn kom.