Kusasalethu-myn: Liggaam van tweede myner na oppervlak gebring

Argieffoto

ʼn Tweede myner wat sedert Vrydagoggend vasgekeer was by Harmony Gold se Kusasalethu-myn naby Carletonville, se liggaam is na die oppervlak gebring.

“Die man het ongelukkig aan sy beserings beswyk,” het die maatskappy Sondag in ʼn verklaring gesê.

Drie werknemers is steeds ondergronds vasgekeer en die reddingspoging sal voortduur totdat hulle gevind is.

“Ons innige meegevoel aan die familie en vriende van die oorledene. Ons sal nie rus totdat al drie werknemers gevind en na die oppervlak gebring is nie,” het Peter Steenkamp, uitvoerende hoof van die maatskappy, gesê. “Ons pogings duur voort om so vinnig en veilig as moontlik by ons kollegas uit te kom.”

Maroela Media het vroeër berig een van die vyf myners se liggame is Saterdag na die oppervlak gebring. Hy het ook noodlottige beserings opgedoen.

Die myn het Vrydagoggend omstreeks 10:30 ʼn ineenstorting beleef tydens ʼn seismiese gebeurtenis ongeveer 3.1 km ondergrond. Byna 3 000 myners was besig om in die myn te werk toe dele van die myn ingestort het.

Alle mynboubedrywighede by die myn is intussen opgeskort.

Lees alle vorige berigte oor die Kusasalethu-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.