Kusile-beskuldigdes se bates bevries

(Links na regs) France Hlakudi, Antonio Trindade, Abram Masango en Maphoko Kgoemoeswana. (Foto: Verskaf)

Die Pretoriase hooggeregshof het ’n bewaringsbevel ten bedrae van R1,4 miljard aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat toegestaan teen die vier mense wat daarvan beskuldig word dat hulle miljoene rande vir Eskom-projekte in hul sak gesteek het.

Die bevel is op Abram Masango, ʼn voormalige uitvoerende hoof van Eskom, France Hlakudi, ʼn voormalige kontrakbestuurder, en die sakemanne Antonio Trindade, die uitvoerende hoof van Tubular Construction, en Maphoko Kgomoeswana beteken.

Die bevel stel die NVG in staat om hulle bates, sowel as dié van hul eggenote en hul familietrusts, te bevries, hangende die uitkoms van die korrupsie- en bedrogsaak teen hulle.

Maroela Media het vroeër berig Masango, Hlakudi, Trindade en Kgomoeswana staan tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog, geldwassery asook die aanbied en ontvang van ongemagtigde vergoeding.

Sindisiwe Seboka, ʼn woordvoerder van die ondersoekdirektoraat van die NVG, sê die bewaringsbevel verbied hulle om op enige wyse met hul realiseerbare bates handel te dryf.

Trevor Hill is deur die hof as kurator aangestel en het reeds ’n inventaris van alle bates opgestel.

Masango en Hlakudi word daarvan beskuldig dat hulle omkoopgeld ten bedrae van R30 miljoen van Trindade en Michael Lomas, voormalige direksievoorsitter van Tubular Construction, ontvang het.

Lomas woon tans in Brittanje en die ondersoekdirektoraat is in hierdie stadium besig met die proses om hom te laat uitlewer.

Kgomoeswana en sy maatskappy, Babinatlou Business Services, word daarvan beskuldig dat hulle die omkopery van senior amptenare moontlik gemaak het.

Die maatskappye wat by die ondersoek betrek word, is Hlakudi Translation and Interpretation, Bon Service Telekom, Tubular Construction Projects, Abeyla Trading en Cosira Tubular Joint Venture (Pty) Ltd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Asgat ·

Nou vra ek…. hoekom vries hulle nie ook al die bates van Zuma en sy korrupsie kaders nie…..

Aai ·

Hulle le beslag op die vissies se eindom nie die Fat Cats nie.

Dup ·

Die “CNA” en sy kaders het omtrent korrupsie en bedrog gepleeg.Lyk my die klomp skelms “struggle” om ñ eerlike dag se werk te verrrig.Kul jou hier en kul jou daar en siedaar…..nog ñ klomp staan in die hof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.