Kusile-eenheid aan kragnetwerk gekoppel

Die Kusile-kragstasie. (Foto: Wikus de Wet/AFP)

Eskom het eenheid 4 van die Kusile-kragstasie aan die nasionale kragnetwerk gekoppel. Die eenheid is vir die eerste keer op 23 Desember aan die netwerk gekoppel.

“Die sinchronisasie-mylpaal beteken dat vier kragopwekkingseenhede van die kragstasie nou aan die netwerk gekoppel is. Dit sal ʼn bykomende 800 MW aan die land se kragopwekkingstelsel verskaf sodra die eenheid ten volle in gebruik is,” het die kragvoorsiener Donderdag gesê. “ʼn Rits toetse word nou voltooi.”

Kusile, naby Witbank in Mpumalanga, is Suid-Afrika se grootste konstruksieprojek en sal die wêreld se vierde grootste steenkoolaanleg wees.

Die eenheid sal oor die volgende ses maande tydens die toets- en optimaliseringsfase in vlae elektrisiteit aan die netwerk verskaf voor dit aan die opwekkingseenheid oorhandig word om amptelik deel te vorm van die netwerk.

Dit sal Eskom verder help om kragvoorsieningsuitdagings te takel.

Bheki Nxumalo, groepshoof vir groepskapitaal, het gesê dié mylpaal is net wat die land nodig het om die ekonomie aan die gang te kry. “Dit is ʼn teken van die volgehoue pogings deur die span om seker te maak die kragstasieprojek word sonder enige verdere vertragings afgehandel. Dit sal Suid-Afrika se elektrisiteitskapasiteit versterk. Ek is dankbaar vir die toewyding deur Kusile se uitvoerende span en sy kontrakteurs.”

Die eenheid het na verwagting gewerk sedert sinchronisasie verlede week plaasgevind het en verskaf tot 330 MW elektrisiteit in vlae aan die netwerk.

Konstruksie en inwerkingstelling van die oorblywende eenheid 5 en 6 by Kusile vorder ook volgens plan. Ná afhandeling sal die kragstasie ses eenhede bevat en ʼn maksimum van 4 800 MW kan verskaf.

Eskom maak by die Kusile-aanleg van nat verbrandingsgas-desulfering (WFGD) gebruik as ʼn metode om atmosferiese uitlaatgas te verminder, in lyn met internasionale praktyke. Dit verseker nakoming aan luggehaltestandaarde en maak dit dus meer omgewingsvriendelik. Kusile is die eerste kragstasie in Suid-Afrika en Afrika om van WFGD-tegnologie gebruik te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.