Kusile-eenheid op nasionale kragnetwerk bygevoeg

Kusile-kragstasie. Foto: Khulu Pasiwe (Eskom), Twitter

Eenheid 3 van die Kusile-kragstasie naby eMalahleni in Mpumalanga is met die nasionale kragnetwerk gesinkroniseer en het Dinsdagaand sy eerste elektrisiteit produseer, het Eskom gesê.

“Eenheid 3 is meer as agt maande voor die goedgekeurde sperdatum van Desember 2019 met die kragnetwerk gesinkroniseer. Sodra eenheid 3 volle krag bereik het, sal dit ʼn stappie nader wees om kommersieel operasioneel te wees wat volgens huidige beplanning teen November 2019 sal wees,” het Jan Oberholzer, Eskom se hoofbedryfsbeampte, in ʼn verklaring gesê.

“Ek wil almal bedank wat betrokke was by hierdie massiewe projek, veral die Kusile-leierskap en personeel wat die beduidende en prysenswaardige mylpaal vir Eskom en die land bereik het. Dankie vir jul toewyding en dat julle die ekstra myl stap om Eskom se doelwitte te bereik. Ons is trots op jul gesamentlike prestasies en wens almal geluk.”

Volgens die kragvoorsiener het die sinkronisering Sondag plaasgevind en is die eenheid gelaai en stabiel gehou op 60 MW. Eskom sê dié sinkronisering is die eerste stap na volle kommersiële bedryf van die eenheid.

“Die volgende stap sal die toets en optimalisering van die eenheid oor die volgende paar maande wees, wat beteken dit sal afwisselend krag aan die netwerk voorsien en kan met tye selfs geen megawatt voorsien nie. Sodra al die toetse gedoen is, sal die eenheid ten volle aangedryf word teen 800 MW en in die nasionale netwerk ingevoer word vir die land se gebruik,” het Eskom gesê.

Die kragvoorsiener sê intussen vorder die konstruksie- en ingebruiknemingsaktiwiteite van die oorblywende Kusile-eenhede, eenhede 4, 5 en 6, goed. Sodra dit voltooi is, sal Kusile se ses eenhede altesaam 4 800 MW krag produseer.

Kusile is die eerste kragstasie in Suid-Afrika en Afrika om nat rookgas-ontswaelingstegnologie te gebruik. Dié tegnologie word gebruik om swaeloksiede uit die uitlaatgasse te verwyder van kragstasies wat steenkool of olie brand. Volgens Eskom word dié tegnologie by Kusile ingestel in ooreenstemming met huidige internasionale praktyk om nakoming van lugkwaliteitstandaarde te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

George ·

By hook or by crook…. Baie geluk aan die manne. Ons hoop hy hou net op vol sterkte.

Wielspore ·

Sinkronisering van ‘n nuwe turbine is ‘n prestasie en hoogtepunt vir ‘n projek, die verhoging MW lewering is relatief maklik. baie geluk aan die span.

Rooi Jan ·

Na die verkiesing dan is daar weer ‘n operasionele probleem.

Renier ·

As ‘n mens die spesifikasies van Medupi en Kusile nagaan, lyk dit heel indrukwekkend. Behoort ‘n duik te maak in Suid-Afrika se kragvoorsieningsprobleme.

jakes ·

Dis geen prestasie nie, beide kragstasies moes 5 jaar gelede klaar gewees het. Om komplimente uit te deel is voortydig want die hele vertraging het die belastingbetaler miljarde gekos. Wat n skande want dis wat onbevoegdheid ons kos.

fred ·

beduidend en prysingswaardig?.who is fooling who? Ons lees elke dag van massiewe vertragings en koste overruns vir Kusile en Medupi…nou verwag Eskom seker ook massiewe bonusse ? N mooi stukkie propaganda Eskom maar ons weet beter….synchronisation beteken nog niks…ons soek krag in ons huisr

Subafrika ·

Hmmmm ja, seker gebou op Medupi se wonderlike standaard… totdat iets breek of totdat sabotasie weer sy tol eis. Sien is glo.

X SA'ner ·

Dis soos ‘n bohaai op te skop as die petrol prys afkom en almal is so gelukkig oor dit, maar dit het opgegaan 20 keer voor dit. Hierdie korrupsie en onkunde by beide krag stasies gaan SA miljarde kos, baie meer as wat dit moes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.