Kusile-korrupsie: Verdagte vas in Brittanje

Die Kusile-kragstasie. (Foto: Wikus de Wet/AFP)

Michael Harry Lomas, ’n Britse burger en voormalige Eskom-kontrakteur, is in Brittanje in hegtenis geneem in verband met R745 miljoen se korrupsie by die Kusile-kragstasie in Mpumalanga.

Lomas is op 15 April in Londen in hegtenis geneem en het Donderdag in die Westminster-landdroshof verskyn.

Volgens Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat, is Lomas op borgtog van £100 000 (sowat R 1,7 miljoen) vrygelaat en moes hy ook ’n borgtogwaarborg van £250 000 (sowat R4,3 miljoen) onderteken.

“Die hofverskyning beteken dat Lomas se uitlewering na Suid-Afrika in alle erns in die Verenigde Koninkryk begin het.”

Lomas se inhegtenisneming en hofverskyning kom na maande se gesprekke tussen die Suid-Afrikaanse en Britse owerhede rakende die korrupsiesaak waar Eskom R745 miljoen aan Tubular Construction Projects betaal het. Dit het Eskom aan R1,4 miljard se oorbesteding blootgestel.

Lomas, ʼn voormalige voorsitter van Tubular Construction, het volgens Seboka nog nooit sy samewerking aan wetstoepassers gegee om verhoor te word nie. Die NVG se ondersoekdirektoraat het ’n uitleweringsaansoek gebring om Lomas terug na Suid-Afrika te bring om saam met sy medebeskuldigdes tereg te staan.

Daar is op Lomas se paspoort beslag gelê en hy moet voldoen aan ’n aandklokreël, van 00:00 tot 06:00 daagliks, wat elektronies gemonitor word. Hy moet op vaste tye by die polisie aanmeld en mag nie naby internasionale vervoerterreine kom nie. Hy moet op 20 Mei weer in die hof verskyn.

Adv. Hermione Cronjé, hoof van die ondersoekdirektoraat, het gesê dit is ’n stap in die regte rigting. “’Ons vernaamste fokus hierdie jaar is die hantering van korrupsie in Eskom en Transnet. Ons sal dit met ywer doen om te verseker dat diegene wat daarby geïmpliseer word aanspreeklik gehou word.”

Abram Masango, ʼn voormalige uitvoerende groephoof by Eskom se kapitaalafdeling, France Hlakudi, ʼn voormalige kontraktebestuurder by Eskom, Maphoko Kgomoeswana, ʼn sakeman, asook Antonio Trindade, uitvoerende hoof van Tubular Construction, het in Februarie in die hof verskyn en moet op 1 Junie weer verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nie Verbaas ·

Snaaks hoe vinnig sy uitlewering gedoen word maar Guptas nog heel gemaklik aan die gang.

Pieter ·

Die Guptas is uitgeslape, hulle het die ANC reg gelees en gespeel. Los hulle uit. Raak ontslae van die cANCer.

Tanniepetoors ·

Baie goeie nuus. Nou kan die bedrogspul en openlike diefstal ontrafel word. Lomas gaan sing soos ‘n paddakoor, vergeet kanaries. Hy gaan nie alleen ondergaan nie. Wiel draai partykeer stadig, maar hy draai.

Jr ·

Ja maar die gebruikerin SA word 15% increase geforseer te betaal. We steal it, you pay for it. Only in SA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.