Kusile-korrupsiesaak tot Februarie uitgestel

(Links na regs) France Hlakudi, Antonio Trindade, Abram Masango en Maphoko Kgoemoeswana. (Foto: Verskaf)

Die vier mense wat daarvan beskuldig word dat hulle miljoene rande vir Eskom-projekte in die sak gesteek het, se saak is tot Februarie uitgestel.

Die gespesialiseerde handelshof in Palm Ridge het vandag die korrupsie- en bedrogsaak uitgestel om die verdediging die geleentheid te gee om met die beskuldigdes oorleg te pleeg nadat die staat sy saak voorgelê het. Die ondersoek hou verband met bouwerk by die Kusile- en Medupi-kragsentrale.

Abram Masango, ʼn voormalige uitvoerende hoof van Eskom, France Hlakudi, ʼn voormalige kontrakbestuurder, en die sakemanne Antonio Trindade, die uitvoerende hoof van Tubular Construction, en Maphoko Kgoemoeswana het vlugtig in die hof verskyn op aanklagte van korrupsie, bedrog, geldwassery asook die aanbied en ontvang van ongemagtigde vergoeding.

Michael Lomas, voormalige direksievoorsitter van Tubular Construction, woon tans in Brittanje. Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat is in hierdie stadium besig met die proses om hom te laat uitlewer, het Sindisiwe Twala, woordvoerder van die direktoraat, gesê.

Masango en Hlakudi word daarvan beskuldig dat hulle omkoopgeld ter waarde van R30 miljoen van Trindade en Lomas ontvang het.

Kgoemoeswana en sy maatskappy, Babinatlou Business Services, word daarvan beskuldig dat hulle die omkopery van die senior beamptes moontlik gemaak het.

Die maatskappye wat by die ondersoek betrek word, is Hlakudi Translation and Interpretation, Bon Service Telekom, Tubular Construction Projects, Abeyla Trading en Cosira Tubular Joint Venture (Pty) LTD.

Al vyf beskuldigdes se borgtog is verleng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarel ·

Nou dit werk kos so. Sake word mos uitgestel heel moontlik vir jare tot stof oorgewaai het en intussen dik die verbruiker op

Nico ·

Hoekom word sake soos die uitgestel, dit word gedoen sodat die dossiere kan verdwyn of in die snippermandjie beland, dit is mos van die ANC kamerade.

Jakes ·

Hoop hierdie maters word gestraf maar eers sal daar nog ten minste 20 tronke gebou moet word om al hierdie manne en vroue te huisves en dt kan nog n 100 jaar duur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.