Kutama-ontsnapping: Twee vas wat verdagtes skuiling gee

Argieffoto

ʼn 32-jarige man en ʼn 20-jarige vrou is in hegtenis geneem nadat hulle glo skuiling gebied het aan vier van die verdagtes wat vroeër uit aanhouding by ʼn maksimumsekuriteitgevangenis ontsnap het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê dié vier ontsnapte gevangenes het glo Donderdagaand, nadat hulle ontsnap het, by die verdagtes se huis in Louis Trichardt geskuil, waarna hulle Vrydag in die vroeë oggendure weer op die vlug geslaan het.

Mojapelo sê uniforms wat na bewering deur die gevangenes gedra is, is op die perseel gevind.

Al vier dié verdagtes is reeds weer in hegtenis geneem nadat sewe gevangenes Donderdagaand ná ʼn oproer uit die Kutama Sinthumule-tronk ontsnap het. Chris Faku (37), wat skuldig bevind is op aanklag van roof met verswarende omstandighede, is Vrydag aangekeer. Jabulani Isaac Mahlangu en Thomas Munyai, wat onderskeidelik tronkstraf uitdien op aanklagte van verkragting en moord, is vroeër Saterdag aangekeer. Ntshengedzeni Manukha (37) van Thohoyandou, die vierde verdagte wat in hegtenis geneem is, is Saterdagmiddag in Waterval buite Louis Trichardt vasgetrek. ʼn Vyfde voortvlugtige is ook intussen in hegtenis geneem.

Die soektog na twee oorblywende voortvlugtiges duur voort. Al vyf verdagtes sal Dinsdag voor die hof verskyn.

Mojapelo sê die man en vrou sal ook Dinsdag in ʼn hof in Louis Trichardt verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.