Kutama-ontsnapping: Vierde voortvlugtige aangekeer

Ntshengedzeni Manukha (Foto verskaf deur SAPD Limpopo)

ʼn Vierde gevangene wat uit aanhouding by ʼn maksimumsekuriteitgevangenis ontsnap het, is aangekeer.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê Ntshengedzeni Manukha (37) van Thohoyandou, is Saterdagmiddag in Waterval buite Louis Trichardt in hegtenis geneem. Manukha is skuldig bevind op aanklag van verkragting en roof met verswarende omstandighede.

Dit is die vierde voortvlugtige wat aangekeer is nadat sewe gevangenes Donderdagaand ná ʼn oproer uit die Kutama Sinthumule-tronk ontsnap het.

Chris Faku (37), wat skuldig bevind is op aanklag van roof met verswarende omstandighede, is Vrydag aangekeer. Jabulani Isaac Mahlangu en Thomas Munyai, wat onderskeidelik tronkstraf uitdien op aanklagte van verkragting en moord, is vroeër Saterdag aangekeer.

Die soektog na die drie oorblywende voortvlugtiges, Phathutshedzo Nemadodzi van Thohoyandou (moord en roof met verswarende omstandighede), Raphael Nyota van Zimbabwe (huisbraak en diefstal), en Justice Makamo van Mosambiek (sakeroof) duur voort.

Motlafela het Vrydag aan Maroela Media gesê tronkbewaarders het glo vroeër begin staak en die gevangenes het munt geslaan uit die situasie.

“Hulle het op ʼn verwoestingstog gegaan, voorwerpe aan die brand gesteek en skade aan die eiendom aangerig. Tydens die chaos het ses gevangenes ontsnap.”

Beamptes van die polisie se openbare orde- en sigbarepolisie-eenheid kon die situasie by die gevangenis onder bedwang bring.

Motlafela het inwoners versoek om op die uitkyk te wees vir verdagte persone. Die gevangenes het groen oorpakke aangehad toe hulle ontsnap het. Hy het gesê die publiek moet dadelik hul naaste polisiestasie bel as hulle onraad vermoed en nie die verdagtes self in hegtenis probeer neem nie, aangesien hulle as gevaarlik beskou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.