Kutama-ontsnapping: Vyfde gevangene aangekeer

Justice Makamo

ʼn Vyfde gevangene wat uit aanhouding by ʼn maksimumsekuriteitgevangenis ontsnap het, is aangekeer.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê Justice Makamo (27) van Maputo in Mosambiek is Sondagmiddag aangekeer nadat lede van die gemeenskap hom in die omgewing herken het.

“Dit is dus nog net Nyota Raphael (30) van Harare in Zimbabwe en Phathutshedzo Nemadodzi (34) van Dididi in Thohoyandou wat op vrye voet is.”

Ntshengedzeni Manukha (37) van Thohoyandou is Saterdagmiddag in Waterval buite Louis Trichardt in hegtenis geneem. Manukha is skuldig bevind op aanklag van verkragting en roof met verswarende omstandighede.

Dit is die vierde voortvlugtige wat aangekeer is nadat sewe gevangenes Donderdagaand ná ʼn oproer uit die Kutama Sinthumule-tronk ontsnap het.

Chris Faku (37), wat skuldig bevind is op aanklag van roof met verswarende omstandighede, is Vrydag aangekeer. Jabulani Isaac Mahlangu en Thomas Munyai, wat onderskeidelik tronkstraf uitdien op aanklagte van verkragting en moord, is vroeër Saterdag aangekeer.

Die soektog na die twee oorblywende voortvlugtiges, Nemadodzi (moord en roof met verswarende omstandighede) en Raphael (huisbraak en diefstal), duur voort.

Mojapelo het Vrydag aan Maroela Media gesê tronkbewaarders het glo vroeër begin staak en die gevangenes het munt geslaan uit die situasie.

“Hulle het op ʼn verwoestingstog gegaan, voorwerpe aan die brand gesteek en skade aan die eiendom aangerig. Tydens die chaos het ses gevangenes ontsnap.”

Beamptes van die polisie se openbareorde- en sigbarepolisie-eenheid kon die situasie by die gevangenis in bedwang bring.

Mojapelo het inwoners versoek om op die uitkyk te wees vir verdagtes. Die gevangenes het groen oorpakke aangehad toe hulle ontsnap het. Mense moet dadelik hul naaste polisiestasie bel as hulle onraad merk en nie die verdagtes self in hegtenis probeer neem nie, aangesien hulle as gevaarlik beskou word.

Die vyf is reeds weer aangekla en sal Dinsdag in die Louis Trichardt-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.