KVBA gryp in by goudsektor-onderhandelinge

myn staking mynhoed

Argieffoto

Die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het ʼn dispuut verklaar met die myne Harmony Gold, Sibanye Stillwater en Village Main Reef.

Joseph Mathunjwa, president van Amcu, het Dinsdag gesê die vakbond kon nie ooreenkomste met een van dié drie mynmaatskappye bereik nie. “Al drie hierdie mynmaatskappye bied driejaar loonooreenkomste aan. Al drie bied loonverhogings aan van R625 vir die eerste jaar, R650 vir die tweede jaar en R675 vir die derde jaar – dit is vir werkers van kategorie 4 tot 8. Behuisingstoelae sal net met R100 verhoog word en net in die eerste jaar,” het Mathunjwa in Johannesburg gesê.

“Hierdie gebrek aan vordering het ons met geen ander keuse gelaat nie as om ʼn dooiepunt te verklaar en die saak na die Kommissie vir Versoening Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) te verwys vir bemiddeling.”

Die bemiddelingsgesprekke sou na verwagting reeds vandag begin.

Volgens Mathunjwa was daar meer vordering in loononderhandelinge met Anglo Gold Ashanti.

“Die rede hiervoor is dat hulle tasbare aanbiedinge maak wat ten doel het om aan ons eise te voldoen. Anglo Gold Ashanti bied werkers ook ʼn driejaar aanbod. Die jongste aanbod vir kategorie 4- tot 8-werkers was ʼn verhoging van R800 in die eerste jaar, R900 in die tweede jaar en R1000 in die derde jaar. Behuisingstoelae sal ook met R100 verhoog word vir elk van die drie jare,” het hy gesê.

“Amcu se posisie was nog altyd dat R12 500 die minimum basiese salaris vir werkers moet wees en hul behuisingstoelaag moet niks minder as R4 000 per maand wees nie. Ons glo werklik dat dit binne die volgende drie jaar bereikbaar is.”

Hy het gesê indien die bemiddelingsgesprekke misluk, sal ʼn staking die vakbond se laaste uitweg wees. “Ons is egter bereid om aan gedissiplineerde en gefokusde protesaksie deel te neem om ons eise tuis te bring indien daar ʼn gebrek aan begrip is,” het hy gesê.

“Hierdie myne is verantwoordelik vir die dood van werkers op ʼn daaglikse basis omdat hulle koste bespaar op beleggings in veiligheid. Hulle geniet hul massiewe winste en hul base kry steeds hul buitensporige bonusse danksy die sweet van ons lede.”

Mathunjwa het gesê vakbondlede in die platinumsektor is in ʼn beter posisie as hul eweknieë in die goudsektor. “Dit is danksy Amcu wat vasbeslote is in ons stryd vir leefbare lone en ordentlike werksomstandighede,” sê hy.

“Prakties gesproke beteken dit dat die ondergrondse werker in die goudsektor wat die minste betaal word ʼn basiese salaris van R6 900 verdien, terwyl dieselfde werknemer in die platinumsektor R11 000 verdien. Dit is ʼn verskil van R4 100 of byna 40%.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

GM ·

As ek die ‘hard hats’ sien, dan sak my gemoed sommer. Dis altyd óf mense wat dood is óf mense wat gaan staak, wat dan beteken dat duisende weer sonder werk gaan sit. En die vakbonde lag al die pad bank toe.

Judge Dredd ·

Hoop net hulle besef nie alle goudmyne is produktief – eendag gaan realiteit hulle hard tref.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.