
Solidariteit-lede en lede van die gemeenskap betoog teen Sasol se Khanyisa-aandeleskema in Secunda in Mpumalanga (6 September 2018). Foto: Reint Dykema
In ʼn nuwe wending in die Solidariteit-staking by Sasol het die Kommissie vir Versoening Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ʼn skrywe aan Solidariteit en Sasol gerig.
In dié skrywe bied die KVBA sy hulp aan om die Solidariteit-staking by Sasol te ontlont. Dié stap word ingevolge artikel 150 van die Wet op Arbeidsverhoudinge gedoen.
Solidariteit het die KVBA intussen formeel in kennis gestel dat die vakbond aan die proses sal deelneem. Hierdie stap volg nadat duisende werkers gister, as deel van ʼn volskaalse staking buite Sasol-Secunda, aan ʼn protesoptog deelgeneem het.

Stakende Sasol-werkers en lede van die gemeenskap tydens ʼn protesoptog in Secunda, Mpumalanga (6 September 2018). Foto: Reint Dykema
Volgens die skrywe sal die KVBA ʼn spesiale kommissaris aanwys om die partye by te staan. Die KVBA skryf ook dat die instelling ʼn uitstekende rekord het wat die ontlonting van dispute deur middel van die artikel 150-proses betref.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die versoek van die KVBA verrassend, maar word dit verwelkom. “ʼn Dispuut kan net rondom ʼn onderhandelingstafel opgelos word. Die partye moet ter wille van almal in Suid-Afrika ʼn oplossing vind en ons verwelkom die KVBA se poging om by die soeke na ʼn antwoord betrokke te raak.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, betoog saam met lede van die vakbond en lede van die gemeenskap teen Sasol se Khanyisa-aandeleskema in Secunda in Mpumalanga (6 September 2018). Foto: Reint Dykema
“Ons het al voorheen positiewe ervarings met soortgelyke prosesse by die KVBA gehad. Die KVBA het ook telefonies aan ons bevestig dat minstens een senior kommissaris, maar waarskynlik twee, aan die proses afgestaan sal word.
“Transformasiedispute waar ras ʼn groot rol speel, is per definisie verdelend en tot nadeel van Suid-Afrika as dit te lank uitgerek word. Indien Sasol en Solidariteit ’n oplossing vir die dispuut kan vind, sal dit nie net vir Sasol goed wees nie; dit sal ook ’n positiewe voorbeeld vir Suid-Afrika wees. Ons het egter nog nie ’n aanduiding gekry of Sasol aan die proses gaan deelneem nie,” sê Hermann.

Solidariteit-lede en lede van die gemeenskap betoog teen Sasol se Khanyisa-aandeleskema in Secunda in Mpumalanga (6 September 2018). Foto: Reint Dykema
Solidariteit het reeds Maandag met ’n sloerstaking by Sasol begin oor die maatskappy se personeelaandeleskema, Khanyisa, wat wit werknemers uitsluit. Dit is die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis dat wit werknemers oor rasseuitsluiting staak. Intussen gaan Solidariteit voort met sy staking.
Die vakbond het planne vir minstens drie weke in plek en beplan om vroeg volgende week ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oor Sasol se rasseuitsluiting te lê. Solidariteit is ook volgende week in die arbeidshof in Johannesburg om toestemming te kry dat al sy lede dwarsoor Suid-Afrika wettig, in solidariteit met die Sasol-lede, kan staak. Die hofaansaak volg nadat Nedlac vroeër Solidariteit se aansoek afgekeur het.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
16 Kommentare
Dis reg mense. Wys hulle wat is witmense werd in hierdie wye en droewe land van ons
Wit mense het ook reg om te staak,
Ondersteun julle totaal. Weet dis moeilik want dis nie in ons natuur om so op te tree nie maar daar is geen ander opsie nie. Sterk staan en bid saam
voor spoet met die staking maak net n lys van was sasol alles vervaardig onder sy naam en onder ander naam dat ons ook kan stop om hulle produkte te koop wand al wat sasol saak maak is geld
Nou het SASOL n geleentheid om te bewys hulle tree nie rassisties op nie.hahaha