Kwadrupleeg weer op motorfiets ná ongeluk

Liezl het vier jaar na die motorfietsongeluk weer op ‘n motorfiets geklim (Foto: Verskaf)

“Daar was nie tyd om stil te staan en myself jammer te kry nie. Ek moes vorentoe kyk en die lewe aandurf.”

Liezl Swanepoel (42) het nie in sak en as gaan sit ná ’n motorfietsongeluk in 2017 haar van haar bors af verlam gelaat het nie. Sy het jare ná die ongeluk eers die gebruik van haar hande teruggekry en doen nou weer amper alles vir haarself.

Swanepoel het boonop sedert haar ongeluk gaan duik, gholf gespeel, skaatsplank gery, tussen haaie geswem en valskerm gespring. Sy het ook onlangs vir die eerste keer weer op ’n motorfiets geklim en ry die land plat.

Die ongeluk

Swanepoel was in Augustus 2017 van motorwerktuigkundiges – wat haar Harley-Davidson-motorfiets versien het – na die gesin se huis in Irene, Pretoria, op pad. Haar man, Casper, het agter haar in sy bakkie gery.

Liezl het na die ongeluk nie in sak en as gaan sit nie (Foto: Verskaf)

Etlike kilometers van die huis af het ’n motor wat in die teenoorgestelde baan aangekom het in Swanepoel se baan beweeg.

“Die motor was nog ver en ek het gedink die bestuurder se aandag is dalk net vir ’n rukkie afgelei. Toe hy egter nie na sy eie baan terugbeweeg nie, het ek van die pad afgetrek en my voete uitgestoot na die grond. Net toe ek my kop oplig, het die motor my reg van voor getref. Daarna was alles blank.

Casper het vanuit sy bakkie die ongeluk voor hom sien afspeel. Hy het die nooddienste na die toneel ontbied en Swanepoel is na die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion geneem.

Swanepoel het eers maande later haar bewussyn herwin, nadat sy in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem is. “Ek kan glad nie die tyd in die hospitaal onthou nie.”

“Volgens ooggetuies het die bestuurder die spoedgrens van 70 km/h ver oorskry. Daar was ook ’n sterk vermoede dat hy onder die invloed van alkohol was,” sê Casper.

’n Saak van roekelose en nalatige bestuur is ná die ongeluk teen die bestuurder aanhangig gemaak. Die saak is ’n jaar later gesluit ná die man gesterf het. Swanepoel weet nie waaraan hy oorlede is nie.

’n Swaar pad na herstel

Liezl se man het die nodige aanpassings aan haar veldfiets gemaak (Foto: Verskaf)

Swanepoel se nek het in die ongeluk op twee plekke gebreek en dit het haar as ’n kwadrupleeg gelaat. Sy het haar bekken op vyf plekke gebreek en ’n fraktuur aan haar regterarm opgedoen. Haar regterhand is ook vergruis en al twee haar bene het seergekry.

“Die dokters het vir my gesê dat ek nooit weer sal kan loop of my hande normaal kan gebruik nie. Ná talle gebede, harde werk en rehabilitasie het ek uiteindelik die afgelope Desember die funksie van my hande teruggekry.”

Volgens Swanepoel was die rolstoel ’n aanpassing, maar sy het geweet daar is nie tyd om haarself jammer te kry nie. Nadat sy weer die werking van haar hande teruggekry het, doen sy nou weer alles self – net soos voor die ongeluk. Sy bad en trek self aan, maak kos en werk in die tuin.

“Ek moes maniere vind om goed vir myself te doen. ’n Mens moet wilskrag ontwikkel, want dit is heeltemal te maklik om net te gaan lê.

“Ek het meer daarop gefokus om my familie en vriende deur die moeilike tyd te dra. Deur vir hulle sterk te wees, kon ek ook vir myself sterk wees.”

Terug op die fiets

Liezl en haar vriend Nico doen alles saam (Foto: Verskaf)

Swanepoel ervaar daagliks erge neuropatiese pyn oor haar hele liggaam, maar sê die pyn is iets van die verlede wanneer sy op haar ysterperd klim.

Casper het drie maande gelede ’n veldfiets vir Swanepoel gekoop en die nodige aanpassings aangebring om dit veilig en toeganklik vir haar te maak. Sy beheer die fiets heeltemal met haar hande.

Sy en haar vriend, Nico Gouws, ry gereeld saam op grondpaaie en motorfietsroetes.

Gouws het ook albei bene verloor weens komplikasies ná hy ’n bloedklontsiekte opgedoen het. Hy en Swanepoel het mekaar by ’n hindernisbaanresies ontmoet en albei het besef hulle wil veel meer uit die lewe hê as om net in ’n rolstoel vasgekluister te wees.

“Ons het saam ’n klomp waaghalsige dinge aangepak. Nico is vir my ’n groot inspirasie en ons ondersteun mekaar.”

Swanepoel, Casper en Gouws is juis vir die langnaweek na Clarens in die Vrystaat om in die berge motorfiets te ry.

Sy het ná die ongeluk ook geen vrees gehad om weer op ’n motorfiets te ry nie.

“Daar was nie sprake van vrees nie. Ek was eerder opgewonde daaroor om weer op ’n motorfiets te klim.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is n tragiese verhaal met ‘n positiewe einde,maak net seker die man is wel dood die polisie is lief om dit as verskoning te gebruik veral as daar navrae is en hulle te lui is om die saak ordentlik te ondersoek.

Danie ·

Pragtige positiewe berig.
Alle sterkte en goeie wense aan die wonderlike vrou, haar man en hul vriend.

Cherokee ·

Die skuldige wat oorlede is, het miskien tòg ‘n boedel nagelaat waarteen geëis kan word. Daar word geen woord daaroor gesprak, so miskien was dit ‘n insolvente boedel. Miskien niè. En wat van 3rde party? Die ongeluksfonds word buitendien holrug gery deur slagoffers, kansvatters en prokureurs. Maar die berig gaan nie daaroor nie, en Liezl word bewonder vir dinge wat sy doen, nà die ongeluk, wat gesonde mense nie voor kans sien nie. Gaan Groot, Liezl!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.