Kwalata-grondbesetters vinnig gestuit

Die toneel Vrydag (10 Junie 2016) in die Dinokeng-wildsreservaat. Foto: Verskaf

Die toneel Vrydag (10 Junie 2016) in die Dinokeng-wildsreservaat. Foto: Verskaf

Vermeende grondbesetters wat Sondagaand glo probeer het om hul huise op private grond naby die Kwalata Lodge in die Dinokeng-wildsreservaat op te rig, is blitsig deur die polisie verwyder en daar is op van hul boumateriaal beslag gelê.

Die wildsreservaat noord van Pretoria sukkel al sedert Woensdag met inwoners van die nabygeleë Refilwe-gemeenskap wat probeer om plakkershutte op die private grond op te rig. Maroela Media het vroeër berig die plakkers het reeds ʼn gedeelte van die heining om die reservaat afgebreek en verwyder, asook die stuk grond “skoongemaak” om daar te begin bou.

Riaan Olivier, hoof van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het vroeër aan Maroela Media gesê hulle het die hele week berigte ontvang dat die besetters van plan is om Sondagaand hul huise op die grond te begin oprig. Hy het egter Maandag gesê van die besetters wat wel probeer het om hierdie plan uit te voer, is vinnig deur die polisie stopgesit.

“Daar het mense hier aangekom met hul sinkplate en ander goed en begin om hul huise op te rig, maar die polisie was blitsig daar en het hulle van die grond verwyder. Daar is ook beslag gelê op van die besetters se boumateriaal wat hulle saamgebring het,” het Olivier gesê.

Hy het gesê teen Maandagmiddag was dit stil op die grond waar die plakkers verlede week gewerskaf het, maar daar was enkele polisiebeamptes steeds op die toneel om die situasie te monitor. “Dit kan dalk weens die reënweer wees dat hulle nie vandag weer probeer het om hul huise op te rig nie, so ons sal maar kyk hoe dit van hier af gaan. ʼn Hofinterdik is bekom wat lui dat enige persoon wat onwettig die grond betree onmiddellik in hegtenis geneem sal word. Die polisie is dus op ʼn gereedheidsgrondslag indien dit gebeur.”

Olivier het weer eens bevestig dat die koninklike Kekana-familie van die Kekana Amandebele-stam hulself gedistansieer het van die grondbesetters se bewerings dat die grond beset word omdat dit aan die Amandebele-stam behoort. “Die Kekana-familie het gesê hulle het wel grondeise ingedien, maar hierdie grond wat in die Dinokeng-reservaat geëis word, vorm nie deel daarvan nie. Die familie het gesê hulle sal ook ʼn persverklaring uitreik om dit te bevestig,” het hy gesê.

Konst. Herman Moremi, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat daar Maandag geen onrus in die gebied was nie en het gesê die polisie sal op die toneel bly om die situasie te monitor.

Lees alle vorige berigte oor die Kwalata-grondbesetting op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Gert ·

Hoera vir die SAPS!!!! Gee hulle gas, hulle vra daarvoor!!!!!!!

Ander Koos ·

Gaaf, baie goed. Geluk en dank aan almal wat hierdie boewery stop sit,, doen so voort!

Johann Barnard -Pta ·

Wil net aan Johann Marx sè met sy vorige kommentaar oor grondbesetters dat ek volkome met hom saam stem. As ons paar blankes wat nog oor is maar almal so kon dink !!!!

Koos ·

Hou dit so as hulle eers sien hulle kan wegkom met die tipe gedrag gaan hulle oral wil plak hulle doen mos net wat die owerhede hulle toelaat om te doen.

Lourens ·

Nou sal hulle aangekla word vir onwettige betreding van privaat grond en wat van die skade wat aangerig is, drade gebreek, bome afgekap ens wie word verantwoordelik gehou want soos ek dit het kan jy nie sommer maak soos jy wil nie, sit nou bv mure om jou erf en as die lyn nie reguit is nie bietjie oor na buurman toe steel jy van sy erf en dan het jy groot probleme wel dis seker net van toepassing in die ou SA

Tiger ·

Ek kan nog nie glo dat die SAPD lede dit kon reg kry om hulle hande uit hulle sakke gehaal te kry nie.Hoe lank staan hulle net daar rond voor hulle iets gedoen het?Treurig as jy my vra!

Stefaans ·

Aangesien die polisie dan nou so “blitsig” is, verduidelik vir my waarom die oortreders nie in hegtenis geneem is die oomblik toe hulle die grond beset en begin afbreek het nie?

Johannes Meintjes ·

Alternatiewelik moet almal van ons nou maar saam met die Staat en die EFF ons self aan ‘n lappie grond gaan help, want die regering en die SAPD se boodskap is soms verwarrend en skynbaar dubbelsinnig? (En oor 20 jaar, sou daar soveel tyd wees, kom die NWO regeringstelsels en verklaar weer al die huidige “regsgeldige” prosesse as onwettig … en vat die nuwe boere se grond af.)

Coleen ·

Die saps is beslis nie die “hero’s” soos hul hier beskryf word nie. Hier was saps, na hul baie van dinokeng se drade reeds beskadig het eers. Nie eers die hofbevel het gemaak dat die polisie help soos in die ou dae nie. Dis die CPF en boere en werkers van Dinokeng asook CPF van naby gelee gemeenskap wat hulp aan gebied het en afriforum. Dit is jong suid afrikaners… Die ouer mense was nie betrokke nie baie van hul is nog kinders wat op skool veronderstel te wees wat nou hul eie grond soek al is mamma se huis net daar en mense wat n 2de huis soek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.