KwaSizabantu: Paneel beslis ‘aantygings is ongegrond’

(Argieffoto: Facebook)

In ʼn ondersoek wat slegs sewe weke geduur het, het ʼn onafhanklike paneel wat bewerings teen die KwaSizabantu-sendingstasie (KSB) in KwaZulu-Natal ondersoek het, bevind dié bewerings is grotendeels ongegrond.

Die beheerliggaam van die sendingstasie het self die onafhanklike paneel, bestaande uit adv. Kumba Shazi, ʼn lid van die Durbanse balie, en Peter Le Mottée, ʼn prokureur van Johannesburg, aangestel om bewerings te ondersoek wat deur News24, die digitale nuuskanaal, gemaak is. Adriaan Basson, hoofredakteur van News24, het geweier om met dié paneel saam te werk en getuies aangemoedig om eerder aan ander ondersoeke deel te neem omdat hy die onafhanklikheid van die paneel bevraagteken.

Maroela Media het voorheen berig bewerings van verkragting, seksuele mishandeling en geldwassery wat reeds jare lank deur oudlede van dié sendingstasie gemaak word, is opnuut aan die lig gebring in ʼn reeks mediaberigte deur News24.

Die onafhanklike paneel het die bevindings van sy ondersoek bekend gemaak nadat getuienis van 36 mense, insluitend voormalige en huidige medewerkers van die sendingstasie, aangehoor is. Die paneel het ook ʼn totaal van 385 geskrewe voorleggings van ondersteuners van die sendingstasie ontvang. Die finale verslag is Vrydag bekendgestel, hoewel slegs ʼn opsommende verslag aan die media gestuur is.

Op navraag om die volledige verslag te bekom het Andrew Arnott van Arnott and Associates in Durban, die registrateur in die ondersoek, gesê hy sien geen probleem daarmee nie en sal toestemming van die paneel aanvra. Hy het ook genoem dat die paneel hom beveel het om slegs Bylaag A uit te stuur. Dit sluit slegs 13 bladsye van ʼn volledige verslag van 53 bladsye in.

Koos Greeff, ʼn voormalige KSB-lid en een van die hoofaanvoerders van bewerings teen die sendingstasie, is onder meer deur die paneel ondervra. Volgens Greeff is die onafhanklike paneel “eensydig aangestel” deur KSB.

Hy bevraagteken ook die onafhanklikheid van die paneel nadat hy as deelnemer van die ondersoek eers Maandag die verslag van die paneel ontvang het. Dit terwyl KSB se adv. Keith Matthee, wat in Kaapstad woonagtig is, reeds Vrydag in ʼn virtuele sitting van KwaSizabantu in Durban op die verslag gereageer het.

In die bewerings teen KSB wat ondersoek is, word aangevoer die sendingstasie is ʼn kultus; is betrokke by geldwassery; het aantygings van seksuele wanpraktyke en maagdelikheidstoetse oorgesien, en het arbeidswette oortree.

Volgens die paneel is KSB nie ʼn kultus nie, maar dat daar sommige praktyke is wat wel kommer wek “en wat aandag moet kry”. Wat dié praktyke presies behels, word in die primêre verslag genoem wat nie aan die media bekendgemaak is nie.

Die bewerings dat die sending klagtes van verkragting, seksuele en fisieke aanranding oorgesien het, is volgens die paneel ongegrond. Die paneel kon ook glo vasstel dat die sending voor 1995 in die uitvoering van lyfstraf wel by tye kwaadwillig opgetree het, maar dat dit plaasgevind het voordat lyfstraf in 1996 verbied is.

Geen bewyse van geldwassery kon volgens die paneel bewys word nie.

Maroela Media het voorheen berig dat KwaSizabantu sedert verlede jaar Junie deur Mike Bolhuis, die spesialisondersoeker, ondersoek word vir beweerde geldwassery van ongeveer R136 miljoen. In dié ondersoek word sommige van die sendingstasie se leiers in die top-struktuur by beweerde geldwassery en diefstal betrek.

Die paneel noem egter in sy opsommende verslag dat hy bekommerd is oor ʼn sogenaamde lening aan die ene “Ndlela” waarna Bolhuis se ondersoek ook verwys. Daar is ook bevind dat werknemers by die sendingstasie en die geaffilieerde maatskappye op die terrein betyds betaal word en dat hulle lone aan die voorskrifte van die land se arbeidswetgewing voldoen. Die paneel voer aan dat die geaffilieerde maatskappye, waarvan die bekende watervervaardiger aQuellé deel is, wel meer vir hulle werknemers “kan en moet” betaal.

Intussen duur ander ondersoeke teen KSB voort.

Maroela Media het in Augustus bevestig die Valke ondersoek bewerings van bedrog by KSB. Dié ondersoek duur nog voort terwyl die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe (CRL) in samewerking met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) ook besig is met hulle eie ondersoek na bewerings teen die sendingstasie.

Mpiyakhe Mkholo, woordvoerder van die CRL, het Dinsdag sy versekering gegee dat hulle ondersoek steeds voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Oom Hennie Pennie ·

As jy goed doen sal jy altyd aangeval word. Mense is afgunstig.

Zombie ·

Wat is daar waarop enige mens afgunstig kan wees, behalwe leë blikke?

Zombie ·

Klink so bietjie vir my na hoe die regering opereer. Ek stel sommer my eie paneel aan om myself te ondersoek en noem die paneel dan “onafhanklik”. Natuurlik sal my self-aangestelde paneel my onskuldig bevind.

Jaco ·

Wat maak dié geldgierige Christene met die volgende Bybelvers:
Dis makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.
Plak hulle dié vers toe of krap hulle dit uit of kom hulle met daardie ou afgesaagde verskoning van “dis verkeerd vertaal”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.