‘Kwêla’ se ‘Dorp van die jaar’ is…

Op Greyton in die Wes-Kaapse Overberg loop daar nog perde in die strate rond. (Foto: Facebook/Greyton Tourism)

In Sondagaand se episode van kykNET se gewilde joernaalprogram, Kwêla, is Greyton in die Kaapse Overberg as die 11de wenner van die Kwêla Dorp van die jaar-kompetisie gekroon.

Dié Wes-Kaapse dorp se naam word nou by ’n gesogte lys van wenners ingesluit. Kareedouw het in 2020 met die louere weggestap.

Swakopmund, Jeffreysbaai, Mosselbaai, Mariental, Graaff-Reinet, De Rust, Sabie, Fouriesburg en Middelburg het ook al die Dorp van die jaar-kroon gedra.

“Die gees op die dorp is vanoggend uitstekend ná gisteraand se aankondiging,” sê Chris Cloete, ʼn restauranteienaar op Greyton wat sedert verlede jaar die bemarkingsveldtog vir die dorp se deelname aan die kompetisie dryf.

“Nadat Kareedouw gewen het, het ons ʼn veldtog van stapel gestuur vir ons gemeenskap van Greyton om te besef hoe dankbaar ons moet wees oor waar ons woon. Ons wou graag ons Theewaterskloof-munisipaliteit ʼn slag bedank vir alles wat hulle op die dorp doen en het die werkers motiveer deur vir hulle dankie te sê,” vertel Cloete.

Die Kwêla Dorp van die jaar-titel word toegeken aan die dorp wat die meeste SMS-stemme gekry het in die laaste stemweek van die kompetisie.

Hannes van Wyk (middel), aanbieder van Kwêla, saam met Chris Cloete, heel regs, Melinda Cloete, heel links en Roslyn Petersen van Greyton Tourism. (Foto: kykNET)

Die ander twee dorpe in die topdrie was St. Francisbaai in die Oos-Kaap (tweede plek) en Upington in die Noord-Kaap (derde plek).

“Ons wou die positiewe gees op die dorp terug bring, veral in die moeilike tyd wat die land tans beleef weens verskeie faktore,” sê Cloete.

Greyton is as die Wes-Kaapse wenner aangewys voordat die dorp Sondagaand as die nasionale wenner aangekondig is. Volgens Cloete lê die dorp se sjarme in sy “onbeskryflike” natuurskoon.

“Hier loop daar nog perde, donkies en beeste in die straat. Ons dorp het nog leiwater en as gevolg daarvan kan ons nog elke jaar ʼn roosfees aanbied. Greyton is baie uniek in die sin dat ons ʼn kunstenaarsdorp is wat ook talle feeste aanbied wat jaarliks baie mense lok.

“Ons het ook bergfietsroetes en markte wat op Saterdae aangebied word,” voeg Cloete by.

Nie net kan Greyton nou met ’n gesogte titel spog nie, maar Kwêla se produksiespan skiet ook ’n toerisme-advertensie van 45 sekondes vir dié dorp. Dit sal boonop ook gebruik word in die R1 000 000-lugtyd wat Greyton kry om die dorp te bemark.

Greyton se natuurskoon. (Foto: Facebook/Greyton Tourism)

Die dorp wen ook die KIA-makietie wat op die dorp gehou sal word sodra openbare byeenkomste weer toegelaat word.

Cloete het ook spesiaal die span van Kwêla bedank vir die kompetisie. “Die kompetisie bemagtig klein dorpe soos ons s’n en dit beteken vir ons geweldig baie. Die kompetisie is nie net ʼn bemarkingsfoefie nie, maar bring weer hoop vir ons gemeenskap. Ons is baie dankbaar daarvoor.”

Kwêla word op Sondae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Besoek Greyton se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
isabelle

absoluut mal oor dorp van die jaar KWELA het my volle aandag met die uitsending

Brenda

Werklik ‘n pragtige ou plekkie en lieflik om ‘n rustige naweek in te spandeer.

Blomme

Geluk aan die wendorp.. Pragtig dat daar nog opgebou word in ons pragtige land.

Moedeloos

Hul het fanastiese kampeerterreine in hul omgewing. Baie bly vir hulle om as Kwela se Dorp van die Jaar te wees Ons kamp hoeka een van die dae weer in daardie omgewing van hulle.

Robert

Sommer lus en pak nou my bike om te gaan inloer.