Kwelling oor DA- virtuele kongres neem toe

(Foto: Demokratiese Alliansie/da.org.za)

Die ontevredenheid in verskeie dele van die DA oor die geldigheid van die virtuele proses waarvolgens die party se leierskap tydens die DA se komende landwye kongres verkies gaan word, is besig om pruttend toe te neem.

Mbali Ntuli, een van die drie leierskapkandidate, sou Maandag teen 10:00 in Durban ʼn openbare aankondiging oor die kongres en haar deelname daaraan doen. As sy haarself sou onttrek weens besware oor die regverdigheid, eerbaarheid en geldigheid van die proses, is die DA inherent in baie groot moeilikheid – of daar nou wesenlike meriete in die besware is of nie.

Van die eerste dag af was daar mense in die DA met skerp bedenkinge oor die tekortkominge van ʼn virtuele kongres, en die vraag is of daardie mense se kommer opgelos kan word.

Vir die DA om ʼn werklik suksesvolle leiersverkiesing te hê, is dit noodsaaklik dat die proses deur almal as vry, regverdig en legitiem beskou word, ongeag die uitslag. As dit waar is, slaag die verkiesing. As dit nie waar is nie het die party probleme.

Mbali Ntuli (Foto: Mbali Ntuli/Facebook)

Die DA moet noodgedwonge ʼn virtuele kongres hou aangesien dit tans onder die afsonderingsregulasies onwettig is om meer as 50 mense bymekaar te bring. Die aard en vorm van die kongres, en die gees van die bespreking, hang egter van die DA af.

Tegnies vorder die voorbereiding vir die kongres so goed as wat onder die moeilike omstandighede verwag kan word. ʼn Proeflopie word gedoen met die Oos-Kaapse provinsiale DA-kongres, wat eersdaags virtueel plaasvind.

Dit is miskien tegnologies die mees uitdagende provinsie om dit in te doen, en onder leiding van die provinsiale DA-voorsitter, Andrew Whitfield, word dit tans baie doeltreffend getakel.

Maar die uitdaging met die landwye kongres is nie net tegnies nie; dit behels ook persoonlike en vertrouenskwessies. Die belangrikste verskil tussen die landwye en die Oos-Kaapse DA-kongresse is dat die twee belangrikste posisies in die Oos-Kaap onbestrede is, en dat die twee belangrikste posisies op die landwye kongres betwis word.

In die Oos-Kaap staan Nqaba Bhanga onbestrede as leier, en Whitfield onbestrede as voorsitter. Ander posisies word betwis, en hoewel daardie betwiste posisies doelmatig en belangrik is, is dit nie so lotsbepalend soos die twee posisies wat onbestrede is nie.

In die geval van die landwye DA-leierskapverkiesing is die situasie anders. Daar is drie polities deurslaggewende posisies op die spel, naamlik leier, voorsitter en voorsitter van die federale dagbestuur.

Helen Zille. (Foto: Tracey Adams/African News Agency)

Hoewel benoemings nog nie gesluit het nie, is dit onwaarskynlik dat dr. Ivan Meyer teengestaan sal word as landwye DA-voorsitter. Die voorsittersrol (jare lank vervul deur Joe Seremane) is inherent ʼn versoeningsrol, en Meyer is ʼn versoener wat gemoedere op bekwame manier kan kalmeer.

Vir die partyleierskap is daar tans drie verklaarde kandidate, naamlik John Steenhuisen, Mbali Ntuli en John Moodey. Vir die posisie van voorsitter van die federale dagbestuur is daar tans twee verklaarde kandidate, naamlik Mike Moriarty en Helen Zille.

Die uitdaging vir die landwye kongres is dat sulke persoonlike interne kompetisie groot eise stel aan ʼn politieke party. Partye wat dit suksesvol hanteer en sy mense aan boord hou, is meer geneig om te groei. Die teenoorgestelde is ook waar.

Die mate waartoe die DA groei of krimp sal dus in ʼn belangrike mate (hoewel nie eksklusief nie) bepaal word deur die vraag of die party mense aan boord kan hou of aan boord kan verwelkom, en daarvoor is enige bekommernisse oor die legitimiteit van die virtuele kongres baie belangrik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andre ·

DA ploeter maar voort.Ek glo dit is ‘n paar jaar te laat vir DA om nou iets te wil probeer.Die blanke kiesers gaan nie meer na die DA kyk nie.Te laat en te min.2020 Het alles mooi duidelik vir die blankes uitgespel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.