Kwelvrae oor skoolaansoeke in Gauteng

(Argieffoto)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) bevraagteken die aantal aanlyn skoolaansoeke wat die Gautengse departement van onderwys glo reeds gedurende fase 1 van sy aanlyn registrasieproses ontvang het.

Maroela Media het vroeër vandag berig die departement meen hy het homself “oortref” nadat hy reeds 351 169 aansoeke gedurende fase 1 ontvang het. Gr. 7-leerders wat tans in ’n openbare skool in Gauteng is, kon gedurende dié fase aansoek doen.

Die SOS sê egter nou gebreke met die stelsel begin reeds die lig sien.

Volgens Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, behoort daar slegs sowat 140 000 gr. 8-leerders in 2022 in Gautengse openbare skole te wees met inagneming van 2015 se gr. 1-getalle en die aantal leerders wat in 2020 matriek geskryf het.

“Hoe is dit dus moontlik dat die departement reeds meer as dubbel soveel aansoeke deur die aanlyn stelsel ontvang het? Die stelsel is veronderstel om duplisering uit te skakel op grond van leerders se ID-nommers.”

Die SOS het ook ernstige vrae oor die werking van die aanlyn stelsel nadat baie leerders se aansoeke gedurende fase 1 verhinder is deur foute op dié stelsel. Buys verwys spesifiek na ’n laerskool wie se gr. 7-leerders nie een op die stelsel kon aansoek doen nie omdat al die leerders se ID-nommers verkeerd was.

Ander leerders is weer verhinder om by ’n spesifieke skool aansoek te doen omdat die skool kwansuis reeds vol is.

“Skole self kan nie onvolledige aansoeke afwys of op waglyste plaas wat nie strook met die skool se taal van onderrig nie. Daar word ook van skole verwag om honderde aansoeke uit te druk, per hand te verifieer en dan weer in die stelsel op te neem, al het hulle nie meer plek om hierdie leerders te kan onderrig nie.”

Buys sê leerders kan dus nie na hul tweede of derde keuse van skool verwys word nie.

Die SOS raai nou ouers en voogde aan om so gou moontlik aansoek te doen by hul voorkeurskole, sodra fase 2 van die departement se aanlyn registrasieproses Maandag open.

Alle gr. 1-leerders én gr. 8-leerders wat nié tans in ’n openbare skool in Gauteng is nie, kan gedurende dié fase aansoek doen om plasing vir volgende jaar.

Buys sê dit is uiters belangrik vir ouers om so gou moontlik die nodige dokumente fisiek by die skool te gaan ingee en om seker te maak hul gekose skool het die korrekte inligting om die aansoek op te volg.

Sy wys ook daarop dat die aansoekproses boonop vanjaar baie laat begin en ouers slegs tot 8 Oktober tyd het om aanlyn aansoek te doen.

Die plasing van fase 1-leerders sal tussen 15 Oktober en 30 November plaasvind, terwyl fase 2-leerders tussen 15 November en 30 November in skole geplaas sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.