‘Kwesbares’ in Gauteng-begroting geprioritiseer

Barbara Creecy, die Gautengse LUR vir finansies (Foto: ANA)

Barbara Creecy, die Gautengse LUR vir finansies, het Dinsdag haar R132,4 miljard-begroting vir die 2019/20-boekjaar aan die Gautengse wetgewer voorgelê.

Dié begroting is ondanks moeilike ekonomiese omstandighede met R9,2 miljard opgestoot.

Creecy het gesê dat die ruimer begroting “die kwesbares in die samelewing sal bevoordeel deur beter gesondheids-, onderwys- en maatskaplike dienste te bied”.

“Die begroting sit uiteen hoe die provinsiale regering beplan om werksgeleenthede te skep, ondernemings, veral in informele nedersettings, te ondersteun asook belegging te verseker in ekonomiese en sosiale infrastruktuur om die lewensomstandighede van landsburgers te verbeter en maatskaplike samehorigheid te bevorder om ʼn toekoms vir alle inwoners te verseker,” het Creecy gesê.

“Ons bly aan die kant van die kwesbaarstes in ons samelewing,” het sy gesê.

Volgens Creecy sal sowat 81% oftewel R105,6 miljard van die begroting voorsiening maak vir gesondheid, onderwys en maatskaplike dienste.

Sy voer aan dat die provinsie sy jaarlikse omsetdoelwitte elke jaar oortref, en vanjaar meer as R20 miljard in eie inkomste gegenereer het. “Dit is die hoogste bedrag wat deur enige provinsiale regering ingevorder is en spreek boekdele waarom ons die provinsie se boeke laat klop,” het sy gesê.

Creecy het gesê Gauteng het as die grootste bydraer tot die land se bruto binnelandse produk ʼn spesiale rol om te speel om vinniger en meer inklusiewe groei te bewerkstellig.

R1,6 miljard sal toegeken word aan ekonomiese ontwikkeling met R26 miljoen wat na die opgradering van informele nedersettings en nywerheidsparke sal gaan. R18,2 miljoen sal na die Ekasi Lab-program gaan, insluitend die ontwikkeling van 80 IT-entrepreneurs uit townships.

“Gauteng het oor die afgelope vyf jaar R74 miljard bestee om goedere en dienste van ondernemings wat deur voorheen benadeelde individue besit word, te verkry. Dit sluit in die verkryging van goedere en dienste van sowat R20 miljard van vroue-ondernemings en R9 miljard van ondernemings in die besit van jeugdiges.”

Volgens Creecy is R22 miljard aan entrepreneurs in informele nedersettings toegewys.

Sy sê verder Gauteng het veral vordering getoon met die proses om verskaffers betyds te betaal. “In ooreenstemming met die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en as ʼn direkte reaksie op die ondersteuning van klein ondernemings, betaal die meeste van ons departemente nou binne 15 dae 92% van hul fakture in ʼn poging om te verseker dat klein ondernemings geprioritiseer word,” het die LUR gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anoniem ·

Barbara, kan jy in alle eerlikheid sê julle het waarde gekry vir die R74 miljard wat gebruik is om goedere en dienste te verkry van ondernemings wat besit word deur voorheenbenadeeldes? Of is daar ook opgeblaasde pryse en korrupsie by betrokke?

Alida ·

Daai geld sal verdwyn soos mis voor die son want niemand is al aangekka, vervolg of afgedank nie. Dieselfdes slyp hul tande vir die volgende pay.

John ·

Hoekom sal die’ mense iets vir hulself doen as die ANC dit sal doen… Goedere vanuit die agtergeblewe gemeenskap… Hoekom is die mens steeds daar? Iets klink baie vreemd. Hulle kan nie voorbly met lewer nie… is dit wat die agterbly beteken. Toon ons wat hul lewer. Die res van die land wil graag sien of is hulle bang ons kom agter hulle kom van elders om te kom skep…

wraggies ·

Moet net nooit aan die kant wees van die mense wat vir alles betaal nie Mev Creecy.

Alida ·

Hoe meer geld hulle kry hoe swakker word die gesondheidsorg by hospitale en klinieke. Kry eerder opgeleide mense en nie net werksoekers nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.