Kwik styg tot rekordhoogte in Namakwa-dorpie

Vioolsdrif (Foto: Verskaf)

ʼn Klein dorpie in Namakwaland, amper op die grens van Namibië en langs die Oranjerivier, het die naweek ʼn rekord gebreek toe die kwik tot sowat 54 °C gestyg het.

Die snikhete temperatuur is Saterdag om 11:00 deur die Vioolsdrif-weerstasie in die Noord-Kaap aangeteken. Volgens Planet Earth Report en Storm Report SA is dit is dié hoogste temperatuur wat nog op die kontinent aangeteken is.

Voorheen is ʼn temperatuur van 55 °C in Tunisië aangemeld, maar die aantekening is in 1931 gedoen en die instrumente was in daardie jare nie volgens internasionale standaarde gekalibreer nie.

Suid-Afrikaners het die afgelope week gesweet toe nog ʼn hittegolf oor die land beweeg het. Neville Bailey, die eienaar van die Oewerbos-rivierkamp in die streek, sê egter dat die mense van Vioolsdrif al gewoond is aan uiters hoë temperature.

Volgens Planet Earth Report is Vioolsdrif gekroon as die warmste plek in Suid-Afrika omdat temperature gereeld hier bo 43 °C styg.

“In Desember styg die kwik tot sowat 48 °C, maar ons is reg langs die rivier so die hitte is leefbaar. Dis net die humiditeit wat regtig pla,” vertel Bailey aan Maroela Media.

Tydens die onderhoud Maandagoggend het die temperatuur in Vioolsdrif weer tot 32 °C gedaal. “Ons gaan maar aan met werk, al is dit hoe warm,” sê Bailey.

Vioolsdrif het ʼn bevolking van sowat 600 mense, maar oor Desember tel die syfers op wanneer veral Kapenaars in die omgewing gaan vakansie hou. “Ons verwag om so 120 mense te verwelkom wanneer die skole sluit. Die Kapenaars kom juis vir die hitte, sodat hulle bietjie van die Suidooster kan wegkom,” grap Bailey.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pierre ·

Was pas oor Spektrum dat dit nie ‘n akkurate lesing was nie en dat die kwik nie werklik tot by 53°C gestyg het nie. Inderwaarheid was die temperatuur in die hoë 40°C’s, weliswaar steeds hoog, maar nie ‘n rekord hoë temperatuur nie.

Leon ·

Ek het so ‘n paar weke gelede ‘n video van ‘n kliëent van my van Phalaborwa gekry. Hy het ‘n akkurate temperatuurmeter gebruik om die temperatuur te meet.
Die lug temperatuur was 58 grade Celcius. Die grond temperatuur was 67 grade Celsius.
Die Namakwaland moet Phalaborwa toe gaan vir warm temeperatuur. Die teer smaelt in Phalaborwa. Ek onthou as kind in die 1960’s het die teer sag geword en dan het die motors sulke diep vore in die teer gery.

Mira ·

Kom kuier in Komatipoort, dan gesels ons oor hitte. Voorspelling vir vandag is 43°. Wat ń normale somersdag is…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.