William Mabasa, woordvoerder van die wildtuin, het gesê dagbesoekers word aangeraai om vroegoggend reeds by een van die ingangshekke op te daag aangesien dié wat eerste daar is eerste gehelp sal word.
Dagbesoekers kan egter voorafbesprekings doen deur die sentrale besprekingskantoor by 012 428 9111 te bel. Voorafbesprekings gaan met ʼn nieterugbetaalbare deposito van R36 per volwassene en R18 per kind gepaard en moet vooraf betaal word. Dagbesoekers wat vooraf bespreek het, moet teen 13:00 by die bespreekte hek wees anders verval die bespreking.
Mabasa het ʼn beroep op alle besoekers gedoen om seker te maak hulle bring hul ID-boekies of enige ander vorm van identifikasie saam om probleme by die ingangshekke uit te skakel.
Dagbesoekers word ook daaraan herinner dat hulle nie drank mag invat nie. Volgens Mabasa kan dagbesoekers, wat weens die kwotas nie plek kry nie, van die wildtuin se parkeer-en-ry-geriewe gebruik maak wat by van die hekke beskikbaar is. Die wildtuin het 10 ingangshekke.