Kwytskeld van beurtkrag kan netwerk finaal knak

André de Ruyter, uittredende hoof van Eskom, waarsku in die verklaring teen die grootskaalse kwytskelding van beurtkrag vir duisende instellings. (Argieffoto: Eskom)

Die hofaansoek deur ʼn groep politieke partye en vakbonde waarin hulle eis dat duisende instellings van beurtkrag kwytgeskeld word, kan lei tot ʼn ganse en landwye netwerkineenstorting wat die “land nie kan bekostig nie”.

Só waarsku die uittredende Eskom-hoof, André de Ruyter, in ʼn beëdigde verklaring wat hy namens Eskom in reaksie op die aansoek by die hof ingedien het.

Die aansoekers het verlede maand die hofaansoek ingedien en eis onder meer dat sowat 1 100 polisiestasies, openbare gesondheidsinstellings soos hospitale en klinieke, sowat 23 000 openbare skole, selfoonnetwerke en kleinhandelaars wat bederfbare kos verkoop, van beurtkrag kwytgeskeld word.

De Ruyter sê in sy verklaring die meeste van dié plekke is in die middel van die kragnetwerk en indien dit van beurtkrag vrygestel word, sal daar weinig krag oor wees om te verminder (beurtkrag) om druk op die netwerk te verlaag. Dit sou beteken naastenby dieselfde vlak van aanvraag word volgehou, terwyl daar in die eerste plek nie genoeg krag is om daaraan te voldoen nie.

“Dit skep ʼn wesenlike gevaar van ʼn netwerkineenstorting.”

Dit sou ook beteken ander Suid-Afrikaners gaan ʼn swaarder beurtkraglas moet dra om die netwerkvlakke stabiel te hou en ineenstorting te verhoed.

De Ruyter sê Eskom werk reeds saam met verskeie departemente en bedrywe wat vir kwytskelding van beurtkrag gevra het. Dit sluit in hospitale en voedselverwerkingsaanlegte.

Die onmiddellike oorsaak van beurtkrag is ʼn tekort aan voldoende opwekkingskapasiteit, sê hy. Indien daar surpluskrag is, kan kragsentrales tydelik uit diens gehaal word vir broodnodige instandhoudingswerk. Indien daar geen surplus is nie, beteken onbeplande instandhoudingswerk dat die vraag na krag die aanbod daarvan oorskry en beurtkrag ingestel moet word.

“Die energiekrisis is grootliks die gevolg van Eskom wat histories onmiddellike kragvoorsieningsbehoeftes bo die dikwels mededingende noodsaak gestel het om in sy infrastruktuur te belê en nuwe bronne van kragvoorsiening te ontwikkel.

“Die huidige Eskom-leierskap is vasbeslote om ʼn gepaste balans te vind tussen die onmiddellike krisis en die lê van ʼn stabiele grondslag vir die toekoms.

“Deur die aansoek toe te staan, gaan die hof onopsetlik daardie doelwitte ongedaan maak,” lui De Ruyter se verklaring.

Hy verwys ook na verskeie redes vir die huidige beurtkragkrisis – waarvan talle buite Eskom se beheer was. Dit sluit in die weiering van voormalige Eskom-hoofde Brian Molefe en Matshela Koko om ooreenkomste met onafhanklike verskaffers van hernieubare energie aan te gaan, asook munisipale skuld, korrupsie en wydverspreide sabotasie.

De Ruyter verwys in sy verklaring na Eskom se Opwekkingsherstelplan, wat in Oktober verlede jaar bekend gestel is ná die aanstelling van ʼn nuwe raad. Dit bou voort op vroeëre planne, ook Eskom se omkeerplan, om die energiebeskikbaarheidsfaktor (EBF) teen die einde van die 2025-boekjaar tot minstens 70% te verhoog.

“Eskom se teiken is om nagenoeg 1 862 MW in die 2023-boekjaar te herwin; dit is omtrent twee fases van beurtkrag. Deur opwekkingsprestasie te verbeter en nuwe aanlegte aanlyn te bring, kan sowat 6 000 MW oor die volgende 24 maande gelewer word.”

Sou die hof die applikante se aansoek toestaan, kan die hele spul – pogings om beurtkrag te beëindig – verongeluk word, lui De Ruyter se verklaring.

“Die gevolg is dat ʼn bevel gemik op die verligting van die korttermynlot van sommige openbare instellings en fasiliteite (selfs al is dit tegnies moontlik, wat nié die geval is nie), Eskom se vermoë om so gou moontlik ʼn einde aan beurtkrag te maak, in die gedrang gaan bring.

“Dit kan nooit regverdig en onpartydig wees nie.”

Eskom het boonop nie die hulpbronne om alternatiewe kragoplossings aan die duisende instellings (soos genoem in die hofsaak) te verskaf nie. De Ruyter sê die “korttermynoplossings” waarna die applikante verwys, gaan waarskynlik langer as twee jaar duur. Teen daardie tyd, “indien Eskom se opwekkingsherstelplan doeltreffend in werking gestel en nie herlei word nie”, sal die kragtekort wat nou ondervind word, al op ʼn “verantwoordelike, rasionele en volhoubare manier opgelos” wees.

  • Die groep organisasies wat die regstappe aanhangig gemaak het, se aansoek sal na verwagting op 20 Maart voor ʼn volbank regters aangehoor word.
Wat behels ʼn algehele netwerkineenstorting?
André de Ruyter sê in sy verklaring dit is onmoontlik om te voorspel hoe lank ʼn netwerkonderbreking sal duur. Dit kan etlike weke neem om te herstel, na gelang van die stand van die netwerk wanneer die netwerk ineenstort.

 

Sonder om “alarmisties” te wees, waarsku De Ruyter nietemin dat só ʼn ineenstorting “katastrofies” sal wees.

 

Probleme kan insluit:

·        Verlies of onderbreking van watervoorsiening en rioolbehandeling

·        Onderbreking van telefoon- en internetdienste

·        Rantsoenering van petrol en diesel en ʼn rimpeluitwerking op die vervoerbedryf en ander instellings (soos hospitale, lykshuise en laboratoriums wat diesel in kragopwekkers gebruik)

·        ʼn Tekort aan kontant weens kitsbanke wat ophou werk

·        Chaos op paaie omdat verkeersligte nie werk nie

·        Winkels en inwoners wat nie genoeg vars voedsel kan bekom nie

·        Die gevaar vir stropery, vandalisme en openbare onrus.

 

“Vanselfsprekend is ʼn netwerkineenstorting ʼn risiko wat Suid-Afrika nie kan bekostig nie,” sê De Ruyter.

Dit kan weke duur vir die netwerk om te herstel, omdat Suid-Afrika nie op buurlande kan steun om krag te voorsien om die netwerk weer aan die gang te kry nie. “Tydens ʼn algehele ineenstorting sal die land ongelooflike menslike en ekonomiese skade ly.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

43 Kommentare

Truman Burbank ·

Hy se “Die onmiddellike oorsaak van beurtkrag is ʼn tekort aan voldoende opwekkingskapasiteit”. Nee. Dit is omdat ons krag en steenkool uitgevoer word. Geen woord daaroor nie

Piet 6 ·

Daar is nie ń tekort aan steenkool nie. Dit is kragstasies wat breek as gevolg van swak onderhoud in die verlede, swak gehalte steenkool as gevolg van diefstal en sabotasie.

Truman Burbank ·

Piet. As die onderhoud so swak is, hoe kry hulle dit reg om na sewe afrika state krag uit te voer?

Chris dupreez ·

Ons voer krag in , ons steenkool word deur skelm sindikate omgeruil en uitgevoer.

Jakkie ·

Alida, nou waar sal Mozal, ‘n aliminium smeltery in Beluluane Industrial Park in Maputo, Mosambiek hul elektrisiteit vandaan kry………

Misky ·

Soveel as wat ek loadshedding verpes, besef ek dis nodig en teveel aanvraag teenoor opwekking. Ook die resultaat van 30 jaar wat instandhouding nie gedoen is nie.

Wat verstaan die spul nie en bloed gaan jy nie uit ‘n klip kan tap nie???

Danie ·

Daar word in hierdie land nie meer nugter gedink en geredeneer nie.Daar word sleg gedink hoe gaan daar geld gemaak word uit die situasie.

Henry ·

ons voer miljarde ton steenkool uit. hoekom kan ander lande steenkool kragstasies gebruik maar hier is dit global warming wat nie deur die mens veroorsaak is nie.

Di ·

TE VEEL onwettige verbindings op die netwerk wat ook ‘n GROOT doring in die vlees is. Die huidige Eskom infrastruktuur is nie gebou om SOVEEL konneksies te hanteer nie. Die swart bevolking se natuurlike aanwas bly geweldig hoog maar geen nuwe kragstasies of ander kragopwekking hulp middels word gebou of geimplementeer nie. De Ruyter het die korrupte regering al 2jaar terug gewaarsku maar hulle het mos sy aanbevelings ge-ignoreer

Harley Davidson ·

Miskien moet die netwerk ineenstort sodat ons van vooraf ons eie instellings kan opbou deur bekwame mense en dan seker maak dit val nie weer in onbevoegde skelms se hande nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Feit is, die ANC beskik nie oor die vermoë om die bestaande instellings te bestuur nie.

Harley Davidson ·

Jy sal verbaas wees wat mense kan doen wanneer die nood op sy erste is.

Jacobus ·

Stem saam hoe gouer hoe beter, dat “our people” in die donker kan stem vir n party wat hulle gevat het van verniet ekektrisieteit na houtkap om pap gaar te maak.

Republikein in die Wes Kaap ·

Johan, dit sál fataal wees. Maar laat dit nou gebeur, want op die huidige trajek is groot pyne in elk geval op die horison. Ons sal wel aanpas en oorleef. In Oekraïne oorleef mense al word instellings vernietig. Ons is dalk te bederf.

Johan ·

Indien dit gebeur sal ons nooit weer opstaan nie. Ons geldeenheid sal onmiddellik huper inflasie tref en sonder n ekonomie gaan ons niks regkry nie. Die netwerk mag nooit ineenstort nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Skrikwekkend, ja. Maar die lekker en maklike lewe is moontlik verby. Ons moet voortdurend aanpas by veranderde omstandighede, al gaan dit hoe rof. Ons ekonomiese struktuur is in elk geval uit voeling met die realiteite om ons. Ons sal weer opstaan, maar die strukture sal waarskynlik anders lyk. Die groot uitdaging is: Wat kan die ekonomie en ons as individue doen om met minder elektrisiteit te oorleef?

Waarnemer ·

En wat is nog nuus?Waar molefe en koko is kan jy verseker wees cyril is betrokke.

Martie Smartie ·

Ek sou dink dis meer sinvol om n aansoek te bring om die regering en sy ANC baas te dwing om alle polisiestasies en staatshospitale toe te rus met werkende kragopwekkers en diegene wat verliese ly agv beurtkrag te vergoed. SAP en hospital eis nooddienste maar as die krag af is is hulle nog minder werk as gewoonlik. Dan daal die nuttigheidsvlak van 20 uit 100 na 2 uit 100. Ek sou dink enige een wat kwytgeskeld wil word moet vooruit betaal vir n jaar of 2 om die ander te subsidieer. Dis mos maar Afrika en die ANC live the African dream watwou

Republikein in die Wes Kaap ·

Hopeloos te laat om nou te wil waarsku. Val gaan ons val.

Stofdonkie ·

Hulle moet maar ou Hoed-man se begroting gebruik en vir die polisiestasies sonkrag installeer. Die oormaat elektrisiteit wat dit dan genereer kan dan maar in die netwerk teruggevoer word. Hulle kan ook die hospitale se begroting gebruik en dieselfde doen.

Fluisterwind ·

Stadsbeplanning….? Dit bestaan seker ook nie meer, want vir die koers waarteen nuwe behuising, winkelsentrums en “Mega” fabrieke opgerig word, sien niemand nuwe kragstasies nie.

De Villiers ·

Miskien is dit dan tyd dat die hele netwerk finaal knak.

Hierdie spoeg en plak werk nie,.

Henk ·

Jy is reg, maar as dit knak sit ons met ‘n baie groot bollie. In effek beteken dit ons gaan nooit weer krag hê nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Henk, die voordeel is dat Kodesa weer van vooraf sal plaasvind. Die tweede keer kan dit behoorlik gedoen word met verantwoordelike mense in beheer.

Brombeer80 ·

Eskom sal alleenlik kan verbeter wanneer al die korrupte en politieke “vingers” verwyder word. Dit in ditself is ook n hoofpyn wat nie weggaan nie.

skurweberg ·

As ‘n mens sê daar is te min blyplek vir studente op ‘n kampus is dit ‘n halwe waarheid. Dit is tyd dat die volle waarheid oor die kragvoorsiening in SA gepraat word. Ironies verby !!!

marius ·

Uit die perd se bek. Dit gaan gebeur en daar is niks wat daaraan gedoen kan word nie .

Papsak ·

Dankie dat een goeie breins vermoee het om te kan dink want hulle kan nie sover dink nie wat nog skat alles op geflip

otter ·

daar is sekere areas wat hulle beweer geteister word deur misdaad wat nie loadshedding kry nie , ja dit is n realiteit. Al daai karakters wat nou nie kan inbreek by die lot wat nie loadshedding kry nie kom breek nou by my in want my huis is donker . Dit is tyd dat almal dieselfde behandel word. Sit af soweto , sit af vir scotsdene, sit af vir wallacedene , dit is onregverdig , ek wat myself dood betaalamper geen krag deur die dag het nie en dit kos my duurder wanneer dit wel aan is . Dit is nou belaglik!!!!

Yvonne ·

Solank die sabotasie voortduur en al die kriminele aksies toegelaat word, solank sal ons gebuk gaan onder beurtkrag..met natuurlik n rippelende effek op alles om ons…hoe tragies het dit nie geword nie!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.