Kyk: Akani, Charl sorg vir nog medaljes

Akani Simbine (links) in aksie in die 100 m-eindronde. Foto: Glyn Kirk/AFP.

Ná ’n stadige begin het Akani Simbine, die verdedigende naelloopkampioen,  genoeg gedoen om die silwer medalje in die 100 m by die Statebondspele in Birmingham los te hardloop.

Die Suid-Afrikaanse naelloper het die afstand in 10,13 sekondes kafgedraf terwyl Kenia se Ferdinand Omanyala ’n gouemedaljevertoning met sy goeie tyd van 10,02 sekondes gelewer het.

“Ek het ’n aaklige wegspring gehad, maar ek is tevrede met die feit dat ek kon terugbaklei en my pad na ’n medalje kon oopveg,” het Simbine gesê.

Charl du Toit het sy uitstekende atletiekloopbaan met ’n silwer medalje in die 100 m vir T37/38-atlete afgesluit.

Die 29-jarige atleet het veral sy stempel op die Paralimpiese Spele van 2016 afgedruk toe hy goud in die 100 m en 400 m in Rio de Janeiro gesmaak het.

Hy het in gister se wedloop in ’n tyd van 11,54 sekondes voltooi –  ʼn nuwe Statebondrekord vir T37-atlete.

“Hierdie was beslis my laaste wedloop en ek het trane van vreugde en opwinding. Wat dit nog meer spesiaal maak is die feit dat my afrigter, my verloofde, my broer en sy vrou hier was om die wedloop te sien. Ek is egter nog nie klaar met atletiek nie; dit is in my bloed en ek sal steeds iewers betrokke wees,” het Du Toit gesê.

Dan het Candice Lill die brons medalje in haar bergfietskategorie ingeoes.

“Dit was ’n vinnige en taktiese wedren, maar terselfdertyd was dit ook baie opwindend,” het die Suid-Afrikaner ná die wedren gesê.

Victoria van der Merwe en Desiree Levin het ook op die podium gestaan met hul derde plek in hul rolbal-item.

“Ons is trots en baie bly dat ons Suid-Afrika kon verteenwoordig en boonop ook nog ’n medalje gekry het,” het Van der Merwe gesê.

Suid-Afrika is tans sesde op die medaljepunteleer met 20 medaljes.

Medalje-punteleer:

  1. Australië 123 medaljes (46 goud, 38 silwer en 39 brons)
  2. Engeland 103 medaljes (38 goud, 37 silwer en 28 brons)
  3. Kanada 57 medaljes (16 goud, 20 silwer en 21 brons)
  4. Nieu-Seeland 36 medaljes (16 goud, 10 silwer en 10 brons)
  5. Skotland 32 medaljes (7 goud, 8 silwer en 17 brons)
  6. Suid-Afrika 20 medaljes (6 goud, 7 silwer en 7 brons)
  7. Indië 18 medaljes (5 goud, 6 silwer en 7 brons)
  8. Wallis 17 medaljes (4 goud, 4 silwer en 9 brons)
  9. Maleisië 8 medaljes (3 goud, 2 silwer en 3 brons)
  10. Nigerië 8 medaljes (3 goud, 1 silwer en 4 brons).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Niks verkeerd met Akani se wegspring nie, inteendeel. Maar nou ja, wat weet ek, eks ‘n leek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.