Kyk: Baba-yorkie loop weer ná operasie

Die veearts het gedink Mia die Yorkie sou nooit were loop nie. (Foto: Verskaf)

ʼn 13 maande oue yorkshireterriër loop weer tot groot vreugde van haar mense-ouers, nadat sy ʼn operasie ondergaan het om ʼn spinale gebrek reg te stel.

Toe Mia se agterbeentjies op agt maande begin lam raak, het dokters vir Cathy Neveling en haar man, pensioenarisse van Gqeberha (Port Elizabeth), gesê die hondjie sal waarskynlik nooit weer loop nie.

“Ons het haar gekry toe sy al vyf maande oud was – ʼn klein hondjie van 560 g met ʼn effense bol ruggie,” vertel Cathy.

In Maart vanjaar het Mia se agterbeentjies begin ingee en sy het dikwels geval. “Die kleine hondjie kon nie meer loop nie en het rondgeval. Dit was verskriklik ontstellend.”

Die egpaar het haar na ʼn veearts in Mount Pleasant geneem, wat haar toe met ʼn spinale gebrek gediagnoseer het. “Die veearts het vir ons gesê haar toestand is permanent, maar ek het vas geglo die Here kan haar aanraak en genees,” vertel Cathy aan Maroela Media.

Mia die Yorkie het waterterapie ondergaan. (Foto: Verskaf)

Die veearts het hulle aangeraai om Mia vir akupunktuur te neem, maar sy het geen verbetering getoon nie. Hulle is toe verwys na dr. Anuska Viljoen, ʼn veearts by Simply Vet in Sedgefield aan die Tuinroete. Dié sou ʼn operasie uitvoer waartydens ʼn soort kraletjie, bekend as golden beads, in Mia se rug ingeplant sou word. Dit sou permanente akupunktuur op haar ruggraat toepas, wat haar sou help om weer te kan loop.

“Dit is drie uur se ry van ons af, maar die veearts wat die operasie in Gqeberha doen, het R60 000 gevra. Hoewel ons die beste vir Mia wil hê, het ons reeds baie geld aan haar behandeling bestee.”

Viljoen het Mia op 22 April vir heelwat goedkoper geopereer en 20 kraletjies in haar ingeplant. Haar eienaars was aanvanklik bang dat sy nie die operasie sou oorleef nie, aangesien narkose op só ʼn jong hondjie redelik gevaarlik is.

Mia het dit egter oorleef en ses weke later het sy haar agterbene tydens waterterapiesessies begin beweeg. Nog later, tydens die fisioterapiesessies, het sy merkbare tekens van vordering getoon en nege weke ná haar operasie het sy self op die mat en gras begin loop.

“Sy is ʼn klein vegtertjie. Ons glo dat sy een van bitter min yorkshireterriërs is wat so klein is, maar met ʼn groot geesdrif om weer te kan loop,” het Cathy gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.