Kyk: Charlotte Maxeke se ongevalle-eenheid weer oop

Die Charlotte Maxeke-hospitaal se nuwe ongevalle-eenheid. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

’n Jaar en R68 miljoen later is die ongevalle-eenheid van die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg uiteindelik weer oopgestel. Dié opknapping kom saam met ’n nuwe brandstelsel, in geval ’n brand in die toekoms by dié staatshospitaal sou uitbreek.

Herstelwerk aan die beskadigde ongevalle-eenheid is einde verlede maand voltooi en die eerste 15 pasiënte is verlede Woensdag reeds opgeneem. Dié pasiënte is meestal psigiatriese pasiënte wat van die Helen Joseph-hospitaal oorgeplaas is.

Die Helen Joseph-staatshospitaal, sowat 7 km van Charlotte Maxeke, het maande lank onder groot druk verkeer nadat groot dele van Charlotte Maxeke, waaronder die ongevalle-eenheid, op 16 April 2021 in ’n brand beskadig is. Pasiënte is sedertdien in groot getalle na Helen Joseph verwys.

Charlotte Maxeke se “nuwe en verbeterde” ongevalle -eenheid kan egter in dié stadium nog slegs vooraf gereëlde oorplasings hanteer. Geen ambulanse óf instap-pasiënte word dus voorlopig aanvaar nie.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het Maandag die hospitaal saam met die Gautengse LUR vir gesondheid, dr. Nomathemba Mokgethi, besoek. Phaahla het tydens dié besoek aan die nuwe ongevalle-eenheid gesê ʼn “ingefaseerde benadering” word gevolg om te voorkom dat die hospitaal se gesondheidstelsel oorweldig word.

’n Stukkende CT-masjien dra danksy vandale ook by tot die feit dat geen lewensbedreigende traumagevalle nou hanteer kan word nie. ’n Pasiënt kan byvoorbeeld nie van ’n ongelukstoneel na Charlotte Maxeke se ongevalle-eenheid per ambulans vervoer word nie, omdat ’n CT-masjien in meeste van dié gevalle benodig word.

Die laaste onderdele vir die masjien het egter vroeër vandag in die land aangekom. Sodra die masjien herkalibreer en in werkende toestand is, sal ambulanse by die ongevalle-eenheid welkom wees, het Phaahla aan verslaggewers gesê.

Die Charlotte Maxeke-hospitaal se nuwe ongevalle-eenheid. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Charlotte Maxeke nog lank nie ten volle oop

Al die nodige herstelwerk aan die Charlotte Maxeke-hospitaal sal na verwagting eers teen November volgende jaar, twee en ’n half jaar ná die brand, voltooi wees.

Charlotte Maxeke word tans bedryf teen ’n kapasiteit van tussen 75% en 80% met net minder as 800 pasiënte wat tans in dié staatshospitaal opgeneem is.

Phaahla het vanoggend verduidelik dat die onkologie-eenheid en die ongevalle-eenheid (vlak 6, blok 1) van Charlotte Maxeke eerste prioriteit geniet het. Herstelwerk aan die res van blok 1, waar die verloskunde- en ginekologie-eenheid gesetel is, sal nou volg en na verwagting teen einde Maart 2023 voltooi wees.

Blok 2, waar die pediatriese eenheid is, sal daarna prioriteit geniet en hopelik teen Julie 2023 voltooi wees. Kontrakteurs sal dan werk aan blok 3, 4 en 5 aanpak.

Só sal herstelwerk volgens hospitaalblokke verloop:Verwagte voltooiingsdatum:
Blok 1: Ongevalle-eenheidApril 2022
Blok 1: Verloskunde en ginekologieMaart 2023
Blok 2: PediatrieJulie 2023
Blok 3: ChirurgieOktober 2023
Blok 4 en 4: Interne geneeskundeNovember 2023

 

Die Charlotte Maxeke-hospitaal se nuwe ongevalle-eenheid. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

(April 2021) (Foto: Twitter)

Parkering vir personeel is sedert die brand ’n kopseer. Kontrakteurs werk tans aan ’n parkeerarea wat voor die brand plek vir 1 000 voertuie gehad het. Daar word verwag dat 300 parkeerplekke binnekort beskikbaar sal wees.

Intussen word soveel moontlik van die hospitaal se sowat 5 000 personeellede opgelei hoe op te tree sou daar weer ’n brand uitbreek.

Sowat 2 700 personeellede is tot op hede opgelei om die hospitaal se nuwe brandstelsel te gebruik.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

Net in Suid Afrika vat dit so lank. Amerika, England, Duitsland en ook Japan sal dit binne 3 maande doen. Bewys dat kaders hopeloos is.

Samuel

Ek is seker sinies, maar hoelank sal dit neem om die CT-masjien te herstel en kalibreer? Seker ook ‘n jaar. Hoe seker is dit dat die nuwe brandstelsel werk? Werk deur BEEE maatskappy geïnstalleer?

Lubbe

Ons sal hoe lyk dit volgende jaar die tyd…

Owlie

R68 miljoen – Regtig – is die plek oor gebou, alles nuut vervang en met houd & Diamante af gewerk – waarvoor so baie geld

Shakespeare

Weer liederlike miljoene in korrupte kaders se sakke. Kaders word gebore met n M graad in korrupsie.