Kyk die staatsrede hier

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa sal Donderdag om 19:00 sy staatsrede vir 2023 lewer.

Die staatsrede word vanaand vanuit die Kaapstad-stadsaal gehou waartydens Ramaphosa die regering se planne vir die volgende 12 maande uiteensit.

Opposisiepartye het belowe om die aflewering van die staatsrede, wat regstreeks uitgesaai word, te ontwrig.

Ure voor die toespraak het etlike honderde betogers van verskeie organisasies, onder wie lede van die SAKP, EFF en Saapa, buite die stadsaal saamgetrek.

Die EFF het vroeër vandag gedreig dat die staatsrede nie vreedsaam gelewer sal word nie.

Die nasionale gesamentlike en operasionele intelligensiestruktuur (NatJoints), wat uit verskeie staatsdepartemente bestaan, waaronder die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en die Staatsveiligheidsagentskap (SSA), staan egter slaggereed om die terrein te beveilig sodat die verrigtinge seepglad kan verloop.

Die staatsrede word gelewer te midde van die land se stryd teen voortdurende kragonderbrekings, hoë werkloosheidsyfer, misdaad en ʼn magdom ander kwessies.

Belanghebbendes hoop dat die kragkrisis ʼn groot fokuspunt tydens die staatsrede sal wees.

Solidariteit het Donderdag ʼn aanmaning aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur, waarin die vakbond dreig om regstappe te doen, sou Ramaphosa vanaand ʼn ramptoestand tydens die staatsrede afkondig.

Dit geld ook indien Ramaphosa besluit om by enige ander geleentheid ʼn ramptoestand weens die huidige kragkrisis in te stel.

Lungile Mashele, energie-ekonoom verbonde aan die Openbare Beleggingskorporasie, meen Eskom behoort die belangrikste onderwerp van vanjaar se staatsrede te wees.

Mashele verwag egter dat Ramaphosa vanaand bloot dieselfde oor Eskom sal opdis as wat hy die afgelope 18 maande reeds doen. Dít sluit in die invoer van krag van buurlande af en die verhoogde lisensiedrempel wat glo beduidende private belegging in kragopwekkingsprojekte sal inhou.

Volgens die parlementêre woordvoerder, Moloto Mothapo, bestee die regering vanjaar meer aan die staatsrede – ter waarde van R8 miljoen – weens die onbeskikbaarheid van die parlementêre distrik.

Vanjaar se staatsrede sal vir die tweede agtereenvolgende keer by die Kaapstad-stadsaal gehou word weens ʼn brand wat in 2022 die parlement se ou vergaderingskamer en die nasionale vergaderingskamer, waar die staatsrede gewoonlik gehou word, verwoes het.

Volg die president se toespraak regstreeks vanaf 19:00 net hier op Maroela Media:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

MrMagic ·

Verseker die modeparade met die duurste klere in ons land.

Harley Davidson ·

Ek glo nie daar is baie belangstelling by die nonsens nie.

Eugene ·

Ja nee. Kyk. Daai klere is beslis nie by pep stores gekoop nie.

Hasie ·

Nee dankie Ek het beter dinge om te doen soos om my hond te was …dit sal in elk geval klomp leuens wees en niks segend

Nie Verbaas ·

Ek kyk eerder Pinocchio. Dit is nader aan die waarheid.

Hayntjie ·

Die uitsending het was uitstekend. Ek het ook die video oor die staatsrede op my selfoon vergelyk met TV. Geen verskil en streaming was uitstekend. So ook die beeld. Ek is ʼn trotse Maroela leser.

domheks ·

Die gebou moes ‘n groot groen tent gewees het, al die narre bymekaar. Met springmielies….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.