Kyk: Wêreld se beste o.18-tennisspeler praat Afrikaans

Joël Schwärzler gesels met die media ná ’n suksesvolle toernooi. (Foto: Verskaf)

Bewys jouself ʼn guns: Trek jou slimfoon nader en loer gou na Joël Schwärzler se profiel op Instagram. Dit skets immers die prentjie van ʼn tennismeester in wording.

Maar beeldmateriaal van pragvoorhandhoue op die kleibane van Parys of die harde bane van New York – natuurlik saam met ʼn hele paar selfversekerde trofeewenoomblikke – vertel nie die volle verhaal nie.

Dít is immers ʼn storie van ʼn jong Oostenrykse tennisspeler met plaaslike wortels. ʼn Jong ster wat die nommereen-o.18-raketswaaier ter wêreld is, maar wat op die koop toe ook hou van ProNutro en krummelpap; iemand wat nog lekker Afrikaans met sy Suid-Afrikaanse ma praat.

“Ek woon al 11 jaar in Oostenryk. Ons het in 2013 hierheen getrek toe ek sewe jaar oud was,” het Schwärzler Woensdag aan Maroela Media gesê.

(Foto: Verskaf)

Vir die eerste paar jaar van sy lewe het hy tussen topgehalte-komkommers grootgeword en beeste saam met sy oupa op ʼn plaas net buite Derby in Noordwes aangejaag, terwyl hy ook vir ʼn rukkie ʼn leerder aan die Duitse skool op Kroondal was.

“Ek kan nog goed Afrikaans praat – ek gesels gereeld met my ma [Ilse] en met my familie in Suid-Afrika. Ek kan wel nie so mooi in die taal skryf nie,” skerts hy.

Deesdae is hy ʼn selfstandige jong man wat op sy eie in ʼn woonstel in Wene woon, die een tennistoernooi ná die ander wen, groot borgskappe losslaan, saam met topspelers skouers skuur en kishoue teen 215 km/h afvuur.

Sy triomftog in verlede jaar se ITF Junior-meesterstoernooi in China is die prestasie waarop hy die trotsste is, want dit het sy status as die beste van die beste in sy ouderdomsgroep onderstreep.

Daarbenewens moet daar ook in vet letters op Schwärzler se indrukwekkende tennisgetuigskrif “Europese o.16-kampioen” staan. ʼn Prestasie wat hy met gerekende spelers soos Carlos Alcaraz en Roger Federer deel.

Schwärzler saam met Roger Federer. (Foto: Verskaf)

So van Federer gepraat: Hoewel die meeste Oostenrykers waarskynlik glo dat Schwärzler in Dominic Thiem se spore kan volg, is daar natuurlik ooreenkomste tussen hom en die Switserse tennislegende.

Al twee spelers het ʼn Suid-Afrikaanse ma en as professionele raketswaaiers verteenwoordig hulle ʼn klein (veral wat bevolkingsgetalle betref) Europese land.

Schwärzler se pa, Matthias, het self destyds as ʼn junior speler met die uiteindelike wenner van 20 Grand Slam-titels sake op die baan uitgespook.

Federer se naam is ook onmiddellik genoem toe die jong Oostenryker oor ʼn droomteenstander gepols is.

“Hy is net die beste speler ooit,” was die eenvoudige antwoord toe daar ʼn rede vir dié keuse gesoek is.

Tog is sy groot held die Spaanse matador, Rafael Nadal.

“Ek hou al vandat ek baie jonk is van hom en ek het ʼn waardering vir sy benadering tot die spel. Ons het hom al drie keer by sy tennisakademie in Majorka besoek.”

Schwärzler se lewe bestaan egter nie net uit sukses, foto’s saam met trofees, handtekeninguitdeelsessies, etes saam met borge en oorgenoeg aandag van bewonderaars nie.

Dit verg baie harde werk – veral as dit jou uiteindelike doelwit is om eendag onder die toptienspelers op die amptelike ATP-ranglys te tel.

Hy het op sewejarige ouderdom begin tennis speel en drie jaar later het hy op sy eie saam met sy afrigter begin rondreis. Vandat hy 16 jaar oud is, woon hy in ʼn woonstel agt uur weg van sy ouerhuis – ʼn tuiste wat hy in 2023 vir net ʼn paar dae dae kon besoek.

“Ek oefen tot sewe uur per dag. Tussendeur die baanwerk besoek ek my fisioterapeut en kry ook sessies saam met my kondisioneringsafrigter ingepas. Op Saterdae sal jy my in die gimnasium kry wanneer ek nie by ʼn toernooi in aksie is nie.”

Hy word onder meer deur Red Bull geborg en was al saam met Max Verstappen in die gimnasium. (Foto: Verskaf)

Maar Suid-Afrika is tog onlosmaaklik deel van hom.

Hy was nie te lank gelede saam met sy familie op ʼn Tuinroete-vakansiebesoek en hy hoop om binnekort weer ʼn draai te maak.

“My ma bestel vir my ProNutro oor die internet, sy bring vir my biltong terug van Suid-Afrika en sy bak vir my beskuit. Mense hier weet nie eintlik wat dit is nie, maar my vriende hou ook baie daarvan.”

Maar sy heel gunsteling is beslis krummelpap – iets wat hy elke dag van sy lewe kan eet.

Soos wat Dricus du Plessis sou sê: Joël Schwärzler weet ook wat die res van ons Suid-Afrikaners weet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.