Kyk: Diefstal veroorsaak dieselstorting in rivier

Brandstofdiefstal het tot n reuse storting gelei. (Foto: Verskaf)

Brandstofdiefstal aan ʼn Transnet-pypleiding buite Harrismith in die Vrystaat het daartoe gelei dat reusehoeveelhede diesel in ʼn nabygeleë rivier gestort is. Dié rivier vloei in die Vaaldam, waaruit drinkwater getap word.

Hoewel die oorsaak van die storting intussen aangepak is, het duisende liters diesel steeds in die Meulrivier naby Verkykerskop in die Vrystaat ingevloei.

Beeldmateriaal van die lekkasie wys hoe diesel soos ʼn rivier langs ʼn plaasheining af vloei.

Michelle Phillips, uitvoerende hoof van Transnet Pipelines, sê ongerymdhede in die pypleiding se drukking is Woensdag in die vroeë oggendure opgemerk. ʼn Taktiese sekerheidspan is na die terrein gestuur om die voorval te ondersoek.

“Volgens hul bevinding is daar met een van die kleppe gepeuter, wat tot ʼn massiewe dieselstorting gelei het,” sê Phillips.

“Spanne is na die toneel ontplooi om die oorloop van diesel in bedwang te bring en die bron van die storting is dieselfde dag versper.”

Die diesel het egter reeds in die Meulrivier ingevloei voordat die spanne dit kon keer.

Omgewingskenners doen nou hul bes om die besoedeling in die omgewing te beperk.

“Die fokus oor die volgende paar dae is op die herwinning van die brandstof, waarna volle rehabilitasie van die omgewing begin sal word. Die departement van bosbou, visserye en die omgewing is ook oor die voorval in kennis gestel,” sê sy.

Die Meulrivier vloei na die Vaaldam wat miljoene mense en diere in onder meer Gauteng van drinkwater voorsien.

Phillips sê egter al die nodige maatreëls is reeds ingestel om die Vaalrivier te beskerm.

Noodreaksiespanne is besig om diesel uit die Meulrivier te herwin, terwyl absorberende versperrings stroomaf en langs die rivier gepak is om enige oortollige brandstof op te neem.

“Die ongunstige weerstoestande belemmer die span se bedrywighede, maar hulle is nietemin vol vertroue dat die strategies geplaaste versperrings die verdere verspreiding van diesel sal voorkom,” sê Phillips.

Die VF Plus het intussen ʼn skrywe aan die minister van omgewingsake, Barbara Creecy, gerig waarin die nasionale departement se aandag op die ekologiese ramp gevestig word.

“Ons is bekommerd, want uiteraard is hierdie water nou ongeskik vir menslike gebruik,” sê Heloïse Denner, VF Plus-LP en kiesafdelingshoof in die besoedelde gebied.

Brandstofdiefstal ʼn probleem

Phillips sê brandstofdiefstal is ʼn reuse-uitdaging vir Transnet.

Verskeie veiligheidsmaatreëls is die afgelope tyd ingestel om die diefstal van dié broodnodige ruolie hok te slaan. Hoewel diefstalvoorvalle met 50% verminder het in vergelyking met vorige jare, is dié soort voorvalle oënskynlik steeds ʼn probleem.

“Weens die inherente gevare wanneer daar met ʼn hoëdruk-petroleumpyplyn gepeuter word, het sodanige voorvalle daartoe gelei dat brande en ander eiendomskade, asook omgewingsvoorvalle plaasgevind het,” sê sy.

“Sommige van die voorvalle het ook tot ernstige beserings en sterftes gelei, aangesien die brandstof wat in die pyplyn vervoer word as uiters gevaarlik beskou word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Fibreglass ·

Deel van die 9miljoen liter diesel wat Eskom per dag verbruik….

Lourens CFG ·

Hulle kan eintlik bly wees oor die nat toestande aangesien brandstof ligter as water is, en dus bo-op dryf, pleks van in die grond insyfer.
Dit is makliker om dit van water te skei, as om dit uit grond uit te suiwer.

JL ·

Liewe hemel, dit is algehele waansin in ons land. Gaan die Dept. ook die boer vergoed, want daai deel van sy plaas se grond is nou dooie grond.

Pietertjie ·

Trots ANC/EFF. Dís waarvoor die wêreld so graag baklei het. Nou is hulle tjoepstil.

Kokerboom ·

Magtig so kan dit nie aangaan. Terrorisme op groot skaal. Die skepsels verdien doodstraf!!

annie ·

‘n Vervalle struktuur sonder enige ooglopende veiligheidsmaatreëls… ‘n Uitnodiging vir skelms.

Waarnemer ·

Damn!!! pleks hulle y net vroegtydig in kennis gestel het…ek kon my voertuig se brandstof tenk vol diesel gaan maak het en nog so n paar kanne in reserwe gehou het….nou is al daardie diesel down the river….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.