Kyk: Dit reën weer lekker in die Karoo

Beaufortstraat in Loxton. (Foto: Deon Kotze/Facebook)

Die reën het weer ʼn draai in die Noord-Kaap gemaak – en inwoners kan hul vreugde nie beteuel nie.

Dít net weke nadat boere gejubel het oor die magdom reën wat hulle reeds in dié provinsie ontvang het.

Deon Kotze, ʼn inwoner van Loxton, sê die dorp is sopnat en dit reën byna onophoudelik. Boonop is daar vir die eerste keer in jare weer water in die Loxton-dam.

“Die Karoo word geseën met soveel reën! Daar het pas weer ʼn storm hier verbygegaan,” sê hy.

Hierdie dorp het die afgelope paar dae tot 60 mm reën aangeteken, met strome wat oral by die strate afloop.

ʼn Boer net buite Loxton het beeldmateriaal gedeel van sy plaas waar gedeeltes volslae in damme en riviere verander het weens die oormaat reën. Dít terwyl baie van die grond- en teerpaaie byna oorstroom het met al die water wat daar deurloop.

Ander opgewonde Noord-Kapenaars het hulle ook tot sosiale media gewend om foto’s van die reën- en donderbuie in dié gebied te deel.

Die gemeenskap van Carnarvon was in ekstase nadat Carnarvon se skooldam weer oorgeloop het nadat dit sowat drie weke vantevore reeds op die rand was om te bars van al die reën.

Nog ʼn sosialemediagebruiker het ʼn video gedeel oor die stortvloed in Sutherland vroeër vandeesweek.

“Strome van seën reën op ons neer,” skryf sy.

“Dit sous op Sutherland. Kyk hoe maak die water branders in die hoofstraat.”

Dié gebruiker wys ook hoe die Onder-Rietrivier vir die eerste keer in jare deur die Karoovlaktes loop.

Hierdie reënbuie volg kort nadat die Suid-Afrikaanse weerdiens (SAWD) inwoners gemaan het oor die stormagtige weerstoestande wat dalk tot oorstromings in die gebied kan lei.

Die Noord-Kaap het reeds vroeër vandeesmaand op plekke meer as 82 mm reën gekry wat vir trane van blydskap by boere gesorg het.

Die provinsie gaan al vir die afgelope agt jaar onder erge droogte gebuk en dié droogte is in Julie tot nasionale ramp verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.