Kyk: ‘Dronk’ spietkop op video vasgelê

Dié verkeersbeampte was glo dronk aan diens. (Foto: Skermgreep)

Die VF Plus eis ʼn volledige ondersoek nadat video’s van ʼn besope verkeersbeampte wat in Lydenburg rondslinger op sosiale media versprei is.

Die beampte, verbonde aan Mpumalanga se departement van vervoer, is in beeldmateriaal betrap waar hy in winkels rondslenter, in rakke vasloop en wiegend uit ʼn winkel strompel. Hy gaan sit dan kop onderstebo op ʼn plastiekstoel voor ʼn winkel.

Die beampte was aan diens en in volle uniform toe dié opnames gemaak is.

Die video’s is verlede Vrydag deur winkeleienaars in ʼn winkelkompleks geneem.

Hy is later geïdentifiseer as Mrakeng Phala en Maroela Media het intussen betroubaar verneem hy is niemand anders nie as die verkeershoof van die Thaba Chweu plaaslike munisipaliteit se seun.

Intussen het die VF Plus ʼn dringende skrywe aan Mpumalanga se LUR vir veiligheid, sekuriteit en skakeling, Vusi Shongwe, gerig om ʼn volledige ondersoek na die voorval te doen en aan die wetgewer te rapporteer.

In ʼn verklaring meen die party dat dié betrokke verkeersbeampte se optrede strydig was met sy burgerlike verantwoordelikheid en dat hy geskors moet word hangende die uitkoms van die ondersoek. Indien hy skuldig bevind word, moet daar daadwerklik teen hom opgetree word.

“Dis dit ʼn skande dat daar van die publiek verwag word om verkeersreëls en -regulasies na te kom, maar beamptes oortree self die wet,” lui die VF Plus se verklaring oor die aangeleentheid.

Navrae oor die voorval is gerig aan die munisipale woordvoerder, Ezrom Sekghobela. Sekhobela het alle navrae verwys na die Mpumalanga- departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling.

Moeti Mmusi, woordvoerder van dié departement, het bevestig dat hulle die video’s ontvang het. “Ons dra kennis van die voorval en is besig met ʼn ondersoek na die voorval. ʼn Voorlopige verslag is ontvang. Die departement wag vir die volledige verslag om te bepaal watter stappe teen die beampte gedoen moet word.”

Mmusi meen dat verkeersbeamptes ten alle tye ʼn sekere standaard van diens moet handhaaf. “Die voorval sal hanteer word met die nodige aandag en stappe sal daarvolgens gedoen word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Aai ·

Hy hoef niks te doen om vir ‘n salaris te werk,net soos die res wat vir die staat werk.Ons hardwerkende mense betaal en jy kan nie kla oor die diens.As jy as ‘n privaat persoon nie werk sit jy op die straat.

Misky ·

Cele se trots….. Bly ek nie in daai beampte se stewels vandag nie

Elize ·

Hierdie wese sal niks oorkom nie want sy pa is een van die hoof indoenas van die dorp

Johann ·

Nee julle…die arme ou is net onvas op sy voete van die skielike klomp vars lug omdat hy nie n masker dra nie.

Wondernet2 ·

Wel hy het nie eens ‘n masker aan nie. Op die klag van dat hy onder invloed is gaan hulle niks doen want dit sal kom met daar was niemand wat hom laat blaas het of bloed getrek nie, so daai gaan net onder mat inval. Beboet hom dan sonder masker

JohanR ·

Duduzane Zuma waaneer hy president word sal al hierdie goed reg sien. Nou laat ek net my tong na die ander kies beweeg.

Danett ·

Dis ook n keuse om een mens se lewe te wil verwoes Omrede JY dink dis nodig om so iets te video. Mens kan sien die Ou is in n toestand. Pyn. Pleks benader Hom en bid vir Hom.

Boerkind ·

Shame! Moet ook nie die moordenaars, verkragters en staatskapers (ANC) aanspreek nie – hulle kan nie anders nie – bid maar net vir hulle?? Lees jy nog Bybel?

twaalfboor ·

Whaaaaa hahaha Danette. Moet nie dat ek ń maagspier skeur nie.

Gert ·

Jy verwoes nie sy lewe nie hy doen dit self. Hy as wetstoepasser moet ‘n voorbeeld stel as hy in uniform is of hy aan of van diens is. Trek uit jou uniform as jy wil gaan suip.

Andre ·

Gaan jy vir hom ook bid as hy jou kind met sy “toestand” dood gery het

Nie Verbaas ·

Woorde begin my nou ontbreek en mens kom net elke dag meer een meer agter hoe onbevoeg en ongedissiplineerd die staatsamtenare is. Van bo tot onder verrot.

Hester Wilhelmina ·

Daar is geen bewys dat hy onder die invloed is van alkohol nie. Lae bloedsuiker het my al presies so laat optree.

Sarel ·

Niemand kan aanname maak dat die man dronk waz sonder bloed toetse nie.
Weet u dat lae bloedsuiker of lae bloeddruk feitkik
dieselfde simptome het.
Mask eers seker voor sommer aangeneem word die man was dronk.

Bernard ·

Ja, en dan word hy geskors vir twee jaar met volle voordele en salaris, wat is die nut daarvan? Baie van hiertoe mense wat so geskors is gee gladnie om die want nou kan hulle by die huis sit, kry nog steeds hulle volle voordele en hulle salarisse so watse straf is daarin om hulle te skors?

Francois ·

More word hy bevorder tot hoof van verkeersafdeling. Dis mos hoe die kaders vir mekaar sorg. Niks gaan hiervan kom nie

Roedolf Johannes ·

Metro sal weer aan n verskoning dink soos dit is n tipe medisyne wat hom lomerig gemaak het.Daar is mos nie Bloedtoetse gedoen nie

Regverdigheid ·

Skande regtig tree op daars baie ander wat werk soek.

Jakman ·

Die verkeersbeampte lyk nie vir my of hy dronk is nie. Hy het dalk ‘n onderliggende kwaal soos mense reeds genoem het. Lae bloedsuiker, lae bloeddruk of ‘n nierkwaal of dalk covid-19. Lyk hy is baie moeg maar nie slingerdronk nie.
Sal graag wil weet wat die uitslag van die ondersoek gaan wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.