Kyk: Genie (13) doen kopkrapsomme binne sekondes

Stiaan Scheepers veilig tuis na die kompetisie in Duitsland. (Foto: Verskaf)

Stiaan Scheepers (13), Suid-Afrika se eie “menslike sakrekenaar”, het opnuut bewys waarom hy hierdie titel werd is.

Dié gr. 8-leerling aan Curro Bloemfontein het onlangs weer sy vermoëns tydens die Junior Mental Calculations Championships in Duitsland ten toon gestel, waar hy ʼn algehele derde plek in sy ouderdomsgroep behaal het.

Hiervoor moes hy sowat 20 bladsye se ingewikkelde berekeninge binne twee uur, sonder enige hulpmiddels voltooi.

Stiaan het ook in ʼn onderhoud met Maroela Media gewys dat hy van die mees komplekse optel-, aftrek-, maal- en deelsomme binne sekondes sonder ʼn sakrekenaar kan bemeester.

Dié wiskundegenie sê hy kan alles in sy kop doen wat ʼn normale sakrekenaar kan doen. Hoewel dit deels ʼn Godgegewe talent is, sê hy dit vat steeds ure en ure se oefen om eindelik al die verskillende formules vir die verskeie soorte somme onder die knie te kry.

Hy het al by verskeie geleenthede gewys hoe hy sowat 200 getalle in 0,4 sekonde- intervalle optel soos dit voor hom flits. Met elke probeerslag het sy finale antwoord presies ooreengestem met dit wat die rekenaarprogram aangedui het – selfs in die gevalle waar hy ʼn volslae gesprek met iemand voer terwyl hy die flitsende getalle optel.

“ʼn Mens kort eintlik net ʼn sterk geheue in wiskunde om al die verskillende formules te onthou,” sê hy.

“Tog is mense wat my nie ken nie baie verbaas dat ek wiskunde so vinnig kan doen. Dit is lekker om daardie verwagtinge by mense te kweek. Dit druk my om harder te werk en beter te doen.”

Van die somme wat Stiaan wel langer as ʼn paar sekondes vat om te voltooi is somme waar twee verskillende datums en tye gegee word en hy die verskil tussen die eerste en tweede datum en tyd moet uitwerk.

“Hoewel ek wiskunde maklik verstaan – ek sien ʼn soort som of formule of manier van wiskunde doen eenkeer en ek verstaan dit – is dit nogtans harde werk om goed te wees daarin.”

Stiaan het ‘n algehele derde plek behaal. (Foto: Verskaf)

As die enigste Suid-Afrikaner wat in die ouderdomsgroep 12 tot 14 jaar deelgeneem het, was die kompetisie in Duitsland uiters taai. Tog was Stiaan se punteverskil met die wenner slegs 43 punte.

“Ek het nie baie gesukkel met die somme nie, ek het net nie genoeg tyd gehad om alles klaar te maak nie. Jy kry net twee uur om meer as 20 bladsye te voltooi. Ek het myself twee minute per bladsy gegee vir die maklike somme, maar ek moes langer tyd op die bladsye bestee wat meer ingewikkelde somme gehad het.”

Die kampioenskap vereis dat deelnemers sonder enige soort hulpmiddel, soos ʼn sakrekenaar of ʼn abakus, moet klaarkom. Deelnemers mag boonop nie enige berekeninge neerskryf nie en nie meer as twee keer hul finale antwoord verander nie.

Stiaan het ter voorbereiding vir die kompetisie, waaraan hy jare lank al deelneem, vier uur elke dag, vir twee weke lank, toetsvraestelle uitgewerk.

“Die wiskunde wat in hierdie kompetisies gedoen word, is moeiliker as normale wiskunde wat op skool aangebied word, maar ek geniet dit,” erken hy.

Stiaan het verlede jaar, voordat sy gesin van Rustenburg na Bloemfontein verhuis het, gr. 6, 7 én 8 in een jaar by die A+ Academy voltooi.

“Toe ek skole geruil het, het my ma en Curro Bloemfontein se skoolhoof ingestem dat dit die beste vir my gaan wees, fisiek en emosioneel, as ek weer in gr. 8 begin. Ek is wel reeds besig met gevorderde gr. 9 wiskunde.”

Stiaan blink nie net uit in wiskunde nie, maar handhaaf ook ʼn 90% gemiddeld en meeste van sy skoolvakke. By ʼn onlangse prysuitdeling by sy skool het hy uit sy hele graadgroep die beste in agt uit die 11 vakke presteer, waaronder wiskunde, chemie, Afrikaans, geografie en kreatiewe kuns.

“My gunstelingvakke bly steeds wiskunde en wetenskap. Ek hoop om eendag in ʼn wetenskaplike rigting te gaan – iets te doen met fisika of chemie soos farmasie of kern- of mediese fisika,” sê hy.

Wanneer Stiaan nie derduisende somme het om te doen nie, speel hy graag skaak of bordspeletjies, ry fiets of peuter met sy Rubik-kubus.

“Wiskunde sal altyd vir my ʼn stokperdjie bly, maar ek dink wel dis belangrik dat almal een of ander soort wiskunde opleiding kry wat jou in jou daaglikse lewe kan help.”

Hier is voorbeelde uit die vraestel vir die Junior Mental Calculations Championships. Hoe lank sal dit jóú neem om hierdie somme, sonder enige hulpmiddels, te bereken?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Byekonfyt ·

Dis voorwaar n prestasie! Ek dink die hele land kan maar trots op Stiaan wees. Puik dat hy woeker met sy Godgegewe talent.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.