Kyk: Hael, reën in Kalahari

Die veld in dele van die Kalahari in die Noord-Kaap het Woensdagoggend so dik onder die hael gelê dat dit op party plekke soos sneeu gelyk het (Foto: Hemari de Beer/Reënval SA/Twitter)

Die veld in dele van die Kalahari in die Noord-Kaap het Woensdagoggend so dik onder die hael gelê dat dit op party plekke soos sneeu gelyk het.

Inwoners van die Askam- en Noenieput-omgewing, dorpe wat digby Upington geleë is, het video’s en foto’s op sosiale media gedeel van velde en paaie wat spierwit van die hael lê. In een sosialemediaplasing deel ’n inwoner ook ’n foto van haelkorrels wat byna so groot soos gholfballe is.

In ’n video wat op sosiale media gedeel is, sê nog ’n inwoner dat die hael wat Dinsdag omstreeks 17:00 geval het, teen Woensdag 11:30 steeds nie gesmelt het nie.

In een sosialemediaplasing deel ’n inwoner ook ’n foto van haelkorrels wat byna so groot soos gholfballe is (Foto: Rooipan Lizette Knoetze/SA Reënvalverslae/Facebook)

“Kyk hoe lê die hael nog … Baie unieke verskynsel en ons is bevoorreg om dit te kan beleef,” sê die inwoner op die video.

Dit het die afgelope week ook heelwat in dié gebied gereën.

Boere in die Noenieput-omgewing het tot 30 mm reënval Dinsdag aangeteken.

Paaie het spierwit van die hael gelê (Foto: Rachel Esterhuizen/Open Africa Kalahari Red Dune Route/Facebook)

Volgens Michael Nethavhani, ’n weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het Upington ’n algehele reënval van sowat 10 mm vir Maandag en Dinsdag aangeteken. In die Springbok- en Pofadder-omgewing het sekere gedeeltes tot 17 mm reën ontvang. In die Postmasburg-gebied is sowat 13 mm reën aangeteken, gevolg deur die Kathu-gebied met tot 10 mm. In die Garies- en Kathu-omgewing is onderskeidelik 8 mm en 9 mm reënval aangeteken.

In Noordwes is daar ook goeie reënval vir Dinsdag aangeteken. In Vryburg is ’n algehele reënval van 45 mm aangeteken, gevolg deur Taung met 16 mm en Ottosdal met 12 mm.

Dit het heerlik gereën in die Garies-omgewing (Foto: Hannes du Toit/Reënval SA/Twitter)

Nethavhani sê die reën het Woensdag begin opklaar.

Die res van Suid-Afrika beleef sedert verlede week uiters koue temperature. Die koue het die afgelope naweek ook die meeste dele van die land in ’n ysige greep gehad. Volgens Nethavhani sal temperature van Donderdag af weer effens styg.

Dag na die hael in Kalahari stuur Barri Knoetze die video. Ongelooflik

Posted by Gary Baumgarten on Wednesday, June 9, 2021

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Dankie tog, vir ‘n bietjie normale abnormaal… in ons liewe mooi ou Kalahari…

LeanetteS ·

Awee dis wonderlik om so iets te sien in my geboorte omgewing!!! Hoe mis die Gautenger nou die Kalahari!!!

Anoniem ·

Pragtig!!!! Wat ‘n wonderlike Uitkoms!!! Ons sê dankie Heer!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.