Kyk: Hael, swaar reën tref Struisbaai

Sommige haelkorrels is so groot soos gholfballe. (Foto: Facebook)

Die eerste gevolge van die voorspelde stormweer in die Wes-Kaap is Woensdag in Struisbaai gevoel.

Talle inwoners van dié kusdorp het video’s en foto’s van reusehaelkorrels, vloede en reënbuie op sosiale media gedeel. Dit blyk dat talle paaie en huise reeds oorstroom is.

Maroela Media het Dinsdag berig dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weerdiens (SAWD) wydverspreide buie en donderbuie, sterk wind en rowwe seetoestande vanaf Woensdagaand vir die Wes-Kaap voorspel.

Intussen het die Kaap Agulhas-munisipaliteit op Facebook gesê dat reddingspanne na oorstroomde gebiede in dele van L’Agulhas, Struisbaai en Struisbaai-Noord ontbied is.

“Mense word tans uit die gebied na veiligheid geneem en onder meer by die Struisbaai-woonwapark en Struisbaai-gemeenskapsaal hervestig.”

Die munisipaliteit het ook gewaarsku dat die pad tussen Struisbaai en Bredasdorp by Vissersdrift onder water is, maar oop is vir verkeer.

“Ons moedig alle padgebruikers aan om versigtig te wees,” het die munisipaliteit gesê.

In ’n video wat op die Facebook-groep Suidernuus geplaas is, kan gesien word hoe ʼn haelbui in iemand se tuin uitsak. Op sommige foto’s is haelkorrels so groot soos gholfballe te sien. In ’n ander video stap ’n man kniediep deur die water in ’n straat in Struisbaai-Noord.

“Genade! Wens so dat baie van die water Karoo toe kan gaan. Arme mense in sinkhuise. Ons reddingsvoertuig (ʼn rubberbootjie) het nog nooit water ingehad nie. Ek het nou ’n waterfontein langs my waterfontein. Ons het 15 minute gelede reeds 70 mm reën uit die reënmeter gegooi,” het Sonia van Jaarsveld om ongeveer 11:30 op die Facebook-groep, Struisbaai Fun, gesê.

“Die moeder van alle storms is in Struisbaai. Ons dink aan al die mense en diere wat nie skuiling het nie,” het Marian van Wyk op Facebook geskryf.

ʼn Weervoorspeller verbonde aan die SAWD, Lehlohonolo Thobela, het gesê dat die stormweer onder meer ernstige vloede en skade aan infrastruktuur tot gevolg kan hê.

Die SAWD voorspel dat die weerstoestande tot Vrydag sal duur. Gebiede wat na verwagting die meeste geraak sal word, is die Overberg-streek, die Tuinroetedistrik, dele van die Kaapse Wynland en die Kaapse metropool.

 

Sbaai noord

Video Megan Patel Struisbaai Noord

Posted by Suidernuus / Southern Post and Suiderpers on Wednesday, May 5, 2021

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Misky ·

Kom ons hoop baie van daai water loop ook PE en Oos-Kaap toe waar hulle dit bitter nodig het. Dankie Liewe Jesus vir die lekker reen

Anthony ·

WIl julle vier my se dat in die jaar van ons Heer 2021, kan niemand wat n engineer is n pyp bou of ontwikkel wat die oorstroomings waters na droee gedeeltes van ons land kan aanvoer? Ek is nie n engineer nie, en ek weet eerlik nie wat dit als behels nie, So my vraag is uit onkunde, is dit n Gods onmoontlike taak ?

Pieter ·

Uitdagings:
1. Topografiese verskille, gravitasievloei werk nie.
2. Elektrisiteit kostes om water te pomp is baie duur. Ontsouting van seewater slegs ekonomies haalbaar langs kus.
3. Groot afstande tussen plekke wat oorstroomings beleef en droogte areas.
4. Van die water van oorstromings maak damme vol in ‘n opvangsgebied. Kan ekologiese en humanitêre probleme veroorsaak.

Wens dit was makliker haalbaar. Reën bly maar die beste op die droë aarde.

Susanna ·

Anthony
Ek het al meermale dieselfde gedink. Hoekom word daar nie plan gemaak met al die reën water? Kanaliseer dit na droë gebiede

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.