Kyk: Haker laat Eben se hare rys

Die Springbokke se Eben Etzebeth. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

Europese klubrugbywedstryde word soms met ’n straatgeveg vergelyk en ná Sondag se kragmeting tussen Toulon en London Irish is Augustin Creevy in die sop omdat hy glo Eben Etzebeth se hare getrek het.

Harlaboerla het geheers nadat ’n geveg in die 35ste minuut van die wedstryd onder die spelers uitgebreek het. Te midde van die rondstampery het ’n veglustige Creevy glo die groot Suid-Afrikaanse slot se hare getrek.

“Daar word beweer dat Creevy die hare van die Toulon-slot, Eben Etzebeth, getrek het. Dié optrede is in stryd met reël 9.27 wat stipuleer dat geen speler op ’n onsportiewe wyse mag optree nie,” het toernooi-organiseerders in ’n verklaring gesê.

Die 37-jarige Argentynse haker verskyn vandag voor ’n tugkomitee.

Etzebeth, wat binnekort Toulon vir Durban verruil, het in ’n onlangse onderhoud met RugbyPass gesê dat hy en Bakkies Botha ook die strydbyl begrawe het.

Botha het vroeër in ’n onderhoud met die Franse koerant Midi Olympique gesê dat Etzebeth ’n ongelooflike speler is, maar selde op sy beste vir Toulon is.

“Hy is die voorste slot ter wêreld, maar hy speel ongelukkig net sy beste rugby vir die Springbokke. In die kleure van Toulon is hy voortdurend beseer, herstel van harsingskudding en speel uiteindelik nooit nie,” het Botha aangevoer.

Volgens die voormalige Bloubulspeler is Etzebeth nie gemaak vir rugby in Frankryk nie, terwyl hy sy rug op die klub se probleme gedraai het met sy beplande terugkeer na Suid-Afrika.

Nodeloos om te sê was Etzebeth – ’n Springbok-veteraan met 97 internasionale toetse agter sy naam – nie te ingenome met Botha se kritiek nie.

“Bakkies Botha – ek neem kennis. Jy het my nommer vir die volgende keer wat jy jou mening wil afdwing,” het hy getwiet terwyl hy die oud-Springbok sommer aan sy erekode herinner het.

Volgens Etzebeth het Botha se woorde hom omkant betrap en hy was aanvanklik teleurgesteld in die kommentaar.

“Bakkies het my egter ’n rukkie later gebel en gesê dat dinge ’n bietjie buite konteks aangehaal is. Alles is nou uitgesorteer en daar is geen kwade gevoelens nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Kort army style hare is die antwoord. Ek dink Eben was miskien meer bekommered dat die ou sy hare opmors! Dra rugby spelers ‘n kam/borsel en Brylcreem in die kous?

piet ·

Bakkies moet tog net vir ons verduidelik hoe ‘n speler sy beste vir ‘n klub kan gee as hy nie kan speel weens ‘n besering nie. En om ‘n speler af te kraak omdat hy weens beserings te min speel, is darem nou regtig ‘n lae hou en ongevraagd.

Burgermeester ·

Dit is maar alleen hier op die vlaktes duskant Hebron, maar daar is twee manne wie se hare jy nie trek nie, … nee drie: Gaitsigubib, Chuck Norris en Eben Etzebeth.

Anton ·

Ai, imagine Bakkies en Eben in dieselfde span. Pure genot :-)

Kobus ·

Nee wat ,hierdie handsak gevegte is niks, Net soos die stoeiers op WWF slaan hulle die witwaks uitmekaar uit maar daar is nooit bloed nie.

Nicolise ·

Ek is mal oor ou Eben. Hulle soek vir moeilikheid met hom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.