Kyk: Joernalis verruil notaboek vir restaurant

Liela verkoop ook plaaslike kuns in Benjamin’s. (Foto: Elaine Krige)

Wat kry jy as jy ʼn oudjoernalis van Pretoria, twee donkies en van die lekkerste wafels in die Vrystaat bymekaargooi? ʼn Resep vir een hengse avontuur.

Dit is ook presies waarna Liela Magnus op soek was toe sy vier maande gelede haar werk by die SAUK bedank, haar huis verkoop en sak en pak van Pretoria na Rosendal in die Oos-Vrystaat getrek het. Sy het intussen eienaarskap en bestuur van die gewilde restaurant op die dorp, Benjamin’s, én die restaurant se twee donkies, Oscar en Basjan, oorgeneem.

Baie mense sal dié dinamiese vrou se naam (en stem) van RSG se nuusinsetsels herken. In haar 21 jaar as joernalis, eers vir Beeld en toe vir die SAUK, het sy oor alles van Oscar Pistorius se moordverhoor tot die ontsnapping van die sjimpansee Moti uit die Pretoriase dieretuin in 2016 berig.

In dié tyd het sy nooit van ʼn werk in die gasvryheidsbedryf gedroom nie en die naaste wat sy daaraan gekom het, was die huishoudkundeklas in 1993. Magnus sê egter nooit nee vir nuwe uitdagings nie en toe ʼn sakeman van Rosendal uit die bloute vir haar die restaurant teen ʼn billike prys aanbied, was daar niks wat haar kon keer nie.

Dié is die lekkerste wafels in die Vrystaat. (Foto: Elaine Krige)

“Ek het aanvanklik gedink die man is mal. Wat weet ek nou van ʼn restaurant af? Maar ek het geweet as ek dit nié doen nie, gaan ek spyt wees. Ek het geen afhanklikes nie – buiten my kat Klara – en toe alles maklik in plek val vir my om te trek, het ek dit as ʼn goeie voorbode beskou,” sê Magnus.

Benjamin’s is op die hoek van Hertzog- en Kerkstraat geleë en is een van die oudste geboue op die dorp. Dit was aanvanklik ʼn meule, maar het later as die dorp se algemene handelaar diens gedoen. Die naam Benjamin’s is ter ere van die Benjamin-familie wat tussen 1930 en die 1970’s op die dorp gewoon het. Hulle was die enigste Joodse familie op die dorp.

Wafels is die restaurant se spesialiteit en talle snuisterye, boeke en klere-items is ook in die winkel te koop.

Hoewel niks haar voorberei het op die harde werk wat die bestuur van ʼn restaurant vereis nie, meen Magnus haar loopbaan as joernalis het haar wel geleer om met gemak met vreemde mense te gesels, iets wat nou handig te pas kom wanneer sy nuwe besoekers by Benjamin’s wil laat tuis voel. Nog iets waaraan sy sukkel om gewoond te raak, is die rustige pas op die platteland, en die feit dat die naaste behoorlike inkopiesentrum verder van Rosendal is as wat Johannesburg van Pretoria af is.

Maar die stilte, skoonheid en gemeensaamheid van die platteland vergoed daarvoor. “Hier gee die mense werklik om vir mekaar en jy ken almal op die dorp. As ek sukkel met iets, is daar altyd iemand om te help of iets aan jou te leen. Die mense van Rosendal is regtig wonderlik.”

Liela en haar donkies, Basjan en Oscar. (Foto: Elaine Krige)

Magnus beplan om die restaurant se spyskaart uit te brei om voortaan ook aandete te bedien en wil graag hê Benjamin’s moet ʼn restaurant wees waar mense tuis kan voel telkens ná hul terugkeer.

En die donkies?

Basjan en Oscar is plaaslike inwoners van die dorp en woon in ʼn kampie neffens die restaurant.

Hulle is op ʼn plaas net buite Rosendal gebore en het op vyf maande die plaaslewe vir die dorp verruil, waar hulle nou hul beste lewe leef. Die twee se pa, Langoor, was veral lief en bekend daarvoor om uit sy kamp te ontsnap. Oscar het skynbaar dié gene geërf en Magnus moet gereeld alles net so laat staan en die veld in vaar op soek na die donkie. Dit kos haar dan baie mooipraat en wortels om die steekse dier weer terug na die restaurant te lok. O die donkie …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.