Kyk: Jong man loop weer ná ‘skokdiagnose’

Robert kan nou met behulp van ‘n loopraam oor die weg kom. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

ʼn Jong man van Vaalwater in Limpopo, wat verlede jaar as ʼn kwadrupleeg gediagnoseer is, het etlike maande gelede wonderbaarlik weer sy voete gevind en beplan om binnekort die sorge van dié diagnose volkome agter hom te plaas. Meer as ʼn jaar ná die skokdiagnose is hy reeds grotendeels onafhanklik en kom met behulp van net ʼn loopraam oor die weg.

Robert Joubert (22) het in Augustus verlede jaar, ʼn week voor sy 21ste verjaarsdag, met geen gevoel in sy arms en bene wakker geword nie.

“Ons weet nie hoe dit gebeur het nie. Ek het die vorige aand nog saam met my vriende by my huis gekuier en dieselfde aand in my bed aan die slaap geraak. Toe ek die volgende oggend wakker word, was ek van my nek af ondertoe verlam,” het Robert aan Maroela Media vertel.

Sy ouers, Leon en Ilse, het hom onmiddellik na die naaste hospitaal in Ellisras gejaag, waar hy eindelik per lugambulans na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem is.

“Ek kan onthou ek het nog vir my pa op pad hospitaal toe gesê: ‘Pa, ek wil nie nou doodgaan nie’.”

Drie dae nadat hy aanvanklik feitlik alle gevoel in sy lyf verloor het, kon dokters in Johannesburg eindelik vasstel wat hom makeer.

“Die vierde en vyfde servikale werwel (C4, C5) in sy nek was gebreek, terwyl die sesde een (C6) ontwrig is,” sê Ilse. “Hy moes dadelik ʼn operasie ontvang om die swelling te verminder en skroewe en ʼn plaat is in sy nek gesit.”

Die dokters is egter steeds nie seker wat veroorsaak het dat dié werwels gebreek het nie.

“Hy was vir twee weke in die intensiewesorgeenheid en vir agt van daardie dae aan ʼn ventilator gekoppel. Die neurosjirurg het toe vir ons gesê dat Robert nou ʼn kwadrupleeg is wat nooit weer sy bene of arms sal gebruik nie.”

Robert kort nadat hy by die hospitaal opgeneem is. (Foto: Verskaf)

Maar Robert was nie oortuig van sy lot nie.

ʼn Maand nadat hy in die hospitaal opgeneem is, is hy na ʼn rehabilitasiesentrum oorgeplaas waar hy hernude hoop vir ʼn lewe soos tevore gekry het.

“Toe ek gediagnoseer is, het ek net besluit dit gaan my nie bepaal nie. Ek het die besluit geneem om weer te loop en dit toe laat gebeur,” sê hy.

“Ek het begin deur eenvoudige goed te doen soos my vingers en nek effe te beweeg. Dit was ʼn stadige begin, maar ek kon toe my vingers begin beweeg, later ʼn arm oplig en selfs my tone beweeg.”

Byna drie maande ná die raaiselagtige gebeurtenis kon Robert vir die eerste keer klein bewegings met sy bene maak.

Volgens Robert was dit egter nie altyd maanskyn en rose nie. Terwyl die daaglikse roetine by die sentrum al sy fisieke krag getap het, het hy ook emosioneel daaronder gely.

“Ek moes baie goed aanvaar as die nuwe normale toestand, asook die lang pad na vergifnis begin stap. Daar was gevoelens van woede en haat, maar ek het ook daardeur gewerk,” sê hy.

“Die mense by die sentrum het ook ʼn groot rol gedurende daardie eerste paar weke gespeel. Rina Jacobs, wat ʼn administrateur by die hospitaal is, het onder meer daagliks langs my bed kom staan en my selfoon teen my oor gehou sodat ek met vriende en familie kon gesels.

“In daardie stadium kon ek niks vir myself doen nie, en sy het my soms ure aaneen gehelp om oproep ná oproep te maak.”

(Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Robert meen dit is sy lewenslustigheid, positiewe ingesteldheid en die almagtige hand van die Here wat hom kort ná sy diagnose deurgetrek het.

“Ek moes daagliks die humor in die situasie vind. As jy huil, dan huil jy alleen, maar as jy lag, dan lag almal saam – en nou is dit maklik om te lag as ek struikel, want ek gaan net opstaan en weer probeer.

“Die Here het my ook ʼn aantal kere kom besoek en ek het geweet ek is nie alleen in hierdie ding nie.”

Verskeie mense, onder wie vriende en vreemdelinge in die kerk, het Robert by verskeie geleenthede genader en vir hom gesê hy gaan weer loop.

“Dit was geheel en al sporadiese ontmoetings wat ons met mense gehad het, en almal het gesê hy sal weer loop. ʼn Mens kon nie anders as om dit te glo nie,” sê Ilse.

Robert se deurbraak het egter een mooi dag in Junie gekom.

“Terwyl ‘O Heer my God’ in die agtergrond gespeel het, het ek my eerste tree gegee,” sê hy.

“My hoërskoolonderwyseres Cecilia Schoeman het altyd vir my gesê met elke traan wat val, raak jy net sterker. Wel, op daardie dag het die trane geval en ek het al hoe sterker geword.”

“Die meeste ma’s sien net een keer hul kinders se eerste tree, maar ek het die voorreg gehad om dit twee keer te beleef,” sê Ilse.

Nou, meer as ʼn jaar later, kan Robert self sy eie behoeftes bevredig en met behulp van ʼn loopraam van punt A tot B kom. Hy kan selfs ʼn paar kilometer met sy pa se bakkie op die plaas ry.

Hy hoop om teen Maart volgende jaar op sy sussie se 18de verjaarsdag vir die eerste keer saam met haar te dans en sy rolstoel, loopraam en krukke finaal weg te bêre.

Gemeenskap span saam

(Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Volgens Ilse het die hele gemeenskap van Vaalwater saamgespan om Robert in sy tyd van nood by te staan. Nadat hy uit die rehabilitasiesentrum ontslaan is, moes die Jouberts ʼn elektroniese rolstoel van nagenoeg R140 000 aanskaf sodat Robert ʼn mate van selfstandigheid kan handhaaf.

Die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa) het egter deur sy bemagtigingsfonds en geldskenkings van beroepsjagters in die omgewing altesaam R92 000 vir Robert se rolstoel ingesamel.

“In ʼn tyd waar Covid-19 die jagbedryf en talle boere in die gebied gekniehalter het, het almal hulle harte en beursies vir ons oopgemaak,” sê Ilse.

Ilse hoop nou om die elektroniese rolstoel, wat Robert nie meer benodig nie, ook aan ʼn ander behoeftige persoon te skenk om sodoende die gesindheid van vrygewigheid voort te sit.

“Vriende het ook sakke sement by ons voorstoep afgelaai sodat ons allerhande opritte in en om die huis vir Robert kon bou. Almal wou net op die een of ander manier help,” sê sy.

ʼn Familievriend, Sarie O’Neil, het onder meer ʼn hospitaalbed, stortstoel en ʼn klomp broodnodige toerusting aan Robert geskenk in ʼn poging om hom so gemaklik moontlik by die huis te maak.

Robert se pa het ook allerhande oefentoerusting uit onder meer hout en swembadnoedels vir hom gebou sodat sy vordering nie stagneer nie.

‘Saam is ons sterker’

“Iemand wat ʼn groot ondersteunende rol in Robert se lewe speel, is Koben Hofmeyer,” sê Ilse. “Hy het onontbeerlike raad aan ons gegee en is deur en deur net ʼn vriend wat Robert deurlopend bemoedig.”

Maroela Media het vroeër berig Koben Hofmeyer is in 2018 op die ouderdom van 16 jaar verlam, toe hy ʼn ernstige nekbesering tydens ʼn rugbywedstryd opgedoen het. Sedertdien het hy van krag tot krag gegaan en kan al met behulp van sy krukke ente loop.

Dries van Coller, uitvoerende hoof van Phasa, is ook ʼn mentor vir hom, vertel Robert. “Hy het altyd tyd vir my en ek is hom ewig dankbaar vir sy invloed op my lewe.

“Ek het net besef dat jy nie hierdie pad alleen kan stap nie. Jy het mense om jou nodig wat ook al was waar jy nou is, want saam is ons net sterker.”

Wanneer Robert nie daaraan werk om sy volle beweeglikheid terug te kry nie, geniet hy dit om te sing. Sy weergawe van die lied Purple Rain wat aanvanklik deur Prince gesing is, is steeds op die plaaslike radiostasie Sabie Stereo se top-20 beste liedjies.

“Die radiostasie het my weer die vrymoedigheid gegee om my stem te laat hoor en uit volle bors te sing. Hoewel dit aanvanklik moeilik was om weer te sing nadat my lyf soveel trauma beleef het, verbeter ek daagliks.

“Ek leef vir musiek en ek hoop om dit eendag nog verder te voer,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Mier14 ·

Wat n wonderlike verhaal van geloof, deursettingsvermoë, hoop en harde werk en n gemeenskap wat saamgekom het om hierdie jong man en gesin te ondersteun. Alle eer aan ons Hemelse Vader en die engele wat hy op julle pad gestuur het. Mag jou pad na herstel voortgaan en geseënd wees!

AW ·

Wat kan ek sê, Behalwe, dat dit volgens my Net GOD se Liefde en Genade is !!

Johanna ·

Wow!!! Sterkte Robert jy gaan deur n vreemde leerskool en glo my die Here wil.jou ervaring gebruik.om Sy Koningkryk hier op aarde uit te brei. Sê net ” Ja Here, gebruik my as U Engel op aarde”!!
Sterkte ek hoop om weer van jou herstel te hoor.

Blomme ·

Ai tog bid vir die afduimpie by al die mooi boodskappies. Daai persoon het duidelik ń probleem met homself.

Mathys ·

Die Heer is groot, daar is geen sangeluid, wat ooit Sy lof in volle waarde uit, dit is ‘n see waar niemand in kan meet, dit is ‘n vloed waar ons geen grond van weet

madels ·

Het nou sommer gehuil van blydskap, hoe wonderlik, ek loof die Here vir hierdie groot wonderwerk , durf en deursettingsvermoë van Robert

Swerwer ·

Robert, jy is so ‘n mooi voorbeeld vir ander. Jou geloof dra jou absoluut. Jy gaan hoogtes bereik.
Sterkte . Alle Eer en Heerlikheid aan ons Hemelse Vader. Moet nooit moed verloor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.