Kyk: Krokodille teister polisie by onwettige grensbrug

Die onwettige houtbrug sowat ʼn maand gelede deur smokkelaars oor ʼn gedeelte van die Limpoporivier naby die Beitbrug-hoofgrenspos opgerig is. (Foto: Verskaf)

ʼn Vrees om krokodilkos te word, verhoed lede van die Suid-Afrikaanse polisiediens glo om ʼn onwettige “smokkelbrug” naby die Beitbrug-grenspos oor die Limpoporivier af te breek. Die polisie is só bang vir krokodille in dié rivier dat die weermag se hulp ingeroep is om hulle met die taak by te staan.

Volgens Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging en militêre veterane, is dié brug sowat ʼn maand gelede deur smokkelaars oor ʼn gedeelte van die Limpoporivier opgerig om goedere en mense tussen Suid-Afrika en Zimbabwe te smokkel.

Die struktuur is sowat drie kilometer wes van die Beitbrug-grenspos geleë.

“Die polisie is ontplooi om die brug af te breek, maar word deur die krokodille verhinder.”

Polisiebeamptes het skynbaar vir die reptiele na ʼn lekker happie gelyk toe hulle op 9 September probeer het om ʼn gedeelte van die brug te vernietig.

Luidens ʼn berig op Times Live het die krokodille die gebied om die brug “in hul massas gepatrolleer”.

Polisiebeamptes het glo ook op die krokodille geskiet, namate hulle van die houtbrug af wegbeweeg het.

Die brug sou die daaropvolgende week afgebreek word, maar dit is onduidelik hoe ver die polisie en weermag tans daarmee vorder.

Maroela Media het ʼn navraag in dié verband aan die polisie en weermag gerig, maar wag nog op terugvoer.

Marais sê indien die weermag wél daarin slaag om die brug af te breek, sal dit in elk geval nie die voortslepende smokkelprobleme by die grens volhoubaar oplos nie.

Die Beitbrug-grens was ook lank weens Covid-19 vir menslike vervoer gesluit, wat tot nog meer onwettige handel oor die grens gelei het.

Verskeie weermaglede is ook voorheen al in verband met onwettige grensbedrywighede en ʼn gekonkel met sindikate vasgetrek.

“Boonop is hierdie gedeelte van die rivier in droë seisoene leeg en kan smokkelaars bloot deur die rivier stap of ry, soos vantevore al gebeur het.

“Baie grensdrade is vernietig en daar is nie genoeg mense om die gebied voldoende te patrolleer nie. Smokkelaars kruip doodluiters weg tot die patrollievoertuie verby is, en gaan dan met hul bedrywighede voort.”

Volgens Marais kan kubertegnologie help om die probleem te verlig.

“Daar moet 24 uur per dag oë op die grensgebied wees sodat taakspanne onmiddellik ontplooi kan word.”

Marais sê hy het namens die party vrae aan die parlement en Sonto Kudjoe, sekretaris van verdediging, gerig oor die probleme by die Beitbrug-grenspos en die onwettige houtbrug, maar nog geen terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

As ek so na die beamptes kyk op die video, kan ek sien hulle weet nie wat om te doen nie. My buurman se 9 jarige dogter sal ‘n plan kan maak om daai struktuur/bruggie af te breek. Wat sukkel hulle so?

Herman

Bel vir Trump. Hy weet hoe om n heining op te rig. Nie die 40 mil wat sa laasjaar gemors het nie.

Anel

Pateties!!!

Moedeloos

HAHAHA. Polisie is bang maar die smokkelaars het brug gebou sonder enige vrese.

Aai

Daai brug is nie in ‘n aand gebou so wys jou net hoe baie tyd het die smokkelaars gehad en geen polisie.